‘Liedjieboer’ dié naweek op Bok Radio se biltong sessies

FOTO: Verskaf

Die 74-jarige Anton Goosen, sluit hom dié komende Saterdag aan by talle Suid-Afrikaanse kunstenaars wat finansieel voordeel trek uit Bok Radio se gewilde Biltong Sessies.

Terwyl moedernatuur haar sneeukombers met mening begin regskud beloof Anton, oftewel die Liedjieboer, om kykers daadwerklik en eksklusief aan die brand te sing. Met Bacchus in die een hand en jou masker in die ander kan jy heerlik saam sing. 

Treffers soos Blommetjie gedenk aan my, Boy van die Suburbs, Waterblommetjies, Kruidjie roer my nie en vele meer sal tydens dié konsert gehoor kan word. 

“As die geelperskereën veertien dae in die boorde val, en dit reën bietjie-bietjie en dit reën bietjie-bietjie, en dit reën in die Wes Transvaal. As die geelperskereën veertien dae in die boorde val, dan hoor jy hoe die railway-perskes in die ketel val,” is die referein vanuit Anton se treffer Geelperskereën.

Dié lirieke is volgens dié Liedjieboer sy gunsteling nog óóit uit sy pen. Hy beloof om die denke agter van sy bekendste snitte regstreeks vanuit sy huis in Gansbaai in die twee uur produksie, te onthul. Die Bok Radio-span sal soos een man by sy huis toe sak vir die regstreekse uitsending. 

Dié skouspel begin komende Saterdag, 20 Junie, om 17:00. Kaartjies is alleenlik beskikbaar by Webtickets teen slegs R45 ’n toestel. 

“Daar is al meer as 80 000 Biltong Sessies-kaartjies verkoop. Daar is reeds 16 vertonings onder die knie. Alle opbrengs is ten bate van die kunstenaars en dié se tegnici,” het Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van Bok Radio, gesê.