Johan Anker, Chante en kie bring hoop met ‘My African Dream’

FOTO: Verskaf

In hierdie onsekere tyd waar die gevreesde Covid-19 virus op verskeie vlakke sy tol eis is ons almal op soek na hoop. Christien de Klerk, skakelbeampte en direkteur van Embrace The Brand Media, het kort ná die inperking besluit om haar kunstenaars te nader om ’n eg inheemse liedjie op te neem wat ’n boodskap van hoop oordra maar almal ook terselfdetyd inspireer om saam te staan. 

Christien het met die vervaardiger Sean Butler oor hierdie idee gesels en Sean het die ikoniese trefferliedjie My African Dream, wat van die sangeres Vicky Sampson in 1996 ’n huishoudelike naam gemaak het, vir hulle projek voorgestel. 

“Vanweë die inperking was dit prakties en logisties ’n enorme uitdaging om die liedjie op te neem. Ons wou seker maak dit word professioneel gedoen en dat die eindproduk van ’n hoë kwaliteit is omdat ons dit digitaal op alle platforms wil vrystel,” verduidelik Christien.

Jong opkomende kunstenaars sowel as gevestigde kunstenaars snoer hul talente in My African Dream saam. Die talentvolle sangers sluit Jack Stone, Matt Stern, Johan Anker, Chris Theron, Mondrey, Hannah, Chante en die duo GnT Band in. 

Kyk die musiekvideo hier:

Die sangers woon dwarsoor die land – van Kaapstad tot Kimberley en Pretoria – maar die meeste het gelukkig hul eie ateljees by die huis waar die opnames gedoen is. 

Elke sanger se opname is na die vervaardigers Sean Butler en Francois Steyn gestuur wat daarna die finale meng behartig het. Die sangers het ook met behulp van ’n spesiale toepassing wat hulle op hul selfone kon aflaai musiekvideo’s tuis gemaak. Jack Stone se bestuurder Johann Latsky van Latsky Multimedia, het die afsonderlike video’s kreatief in een musiekvideo geredigeer. 

Die sangers is baie opgewonde oor die projek. “Dit is ’n eer om deel te wees van hierdie eindproduk. Musiek is ’n universele taal en dit is wonderlik dat ons as kunstenaars dit kan aanwend om ’n positiewe boodskap van hoop in hierdie moeilike tyd oor te dra,” sê die Kaapse rocker Jack Stone. 

Volgens Chante is My African Dream een van die mees herkenbare liedjies in Suid-Afrika. “Die liedjie is simbolies om na jou wortels terug te keer of jouself weer te vind. My African Dream is ’n liedjie wat hoop en eenheid versinnebeeld. Die liedjie herinner ons daaraan dat ons drome bly leef en dat die son weer gaan skyn. Ons is almal saam in hierdie moeilike tyd,” sê sy.

Chante sê dit was ’n eer om saam met kunstenaars en vervaardigers wat ’n liefde vir musiek en vir ons land deel, te werk. “Ons het nie toegelaat dat enige struikelblokke in ons pad staan om iets amazing te skep nie. Hierdie is vir jou Suid-Afrika!”

Johan Anker sê My African Dream laat sy bors swel van trots om op die kontinent te woon en des te meer om ’n Suid-Afrikaner te wees. ”Die liedjie herinner ons aan ons herkoms en die droom van solidariteit. Ek voel altyd bietjie patrioties wanneer ek daarna luister.” Hy sê baie mense voel neerslagtig in hierdie tyd en het ’n vrees vir die onbekende. “Ons wil mense hoop en vertroosting met hierdie liedjie gee en ook dieboodskap oordra dat ons sterker is wanneer ons almal saam staan. Wanneer jy sien jou medemens het hulp nodig reik uit na hom of haar. Ons almal het ’n rol om te speel en die African Dream ’n realiteit te maak.”

Die duo GnT Band beaam dat My African Dream ’n boodskap van vrede en hoop uitdra. “Die liedjie bring positiwiteit in ’n huidiglike negatiewe klimaat en omgewing. Ons wil hê elke Suid-Afrikaner moet hierdie boodskap hoor en besef dat hulle met ’n opbouende gesindheid vorentoe moet beweeg.”

Die nuweling Mondrey sê drome gee inspirasie en ambisie in jou lewe. “Persoonlik beteken hierdie liedjie vir my dat al lyk die lewe hoe donker, is more ’n nuwe dag met nuwe uitdagings”

Matt Stern sê My African Dream onderstreep vir hom die hunkering na eenheid as ’n nasie wat saam staan en na mekaar uitreik. “Dit was ’n voorreg om tydens die inperking saam met ander kunstenaars op hierdie unieke manier ’n liedjie en video saam te stel. Al was daar min of geen kontak, deel ons dieselfde visie en passie.”

Chris Theron sê My African Dream se meesleurende melodieë sowel as die dieperliggende boodskap van hoe om die land te transformeer en te verenig gee jou stof tot nadenke. “Ek hoop mense gaan nie net na die liedjie luister omdat dit mooi en treffend is nie, maar ook omdat dit hoop na die wêreld uitstraal — en in hierdie uitdagende tyd het ons dit almal nodig.”

Hannah sê My African Dream is ’n spesiale liedjie wat as‘t ware die droom wat ons altyd gekoester vir Suid-Afrika gekoester het en steeds het, simboliseer. “Dis die droom dat ons vry kan wees van armoede, misdaad en rassisme en uiteindelik in ’n land kan woon waar ons tydens goeie en slegte tye kan saam staan.

“Ek hoop dat wanneer mense na hierdie innoverende weergawe van My African Dream luister, dit hulle sal inspireer om hierdie groot droom na te streef.”