Dani Villé moedig luisteraars aan om uit hul gemaksone te kom met nuwe snit

FOTO: Verskaf

Dit vat ’n spesiale kombinasie van talent en uithouvermoë vir ’n kunstenaar om uit te staan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en gelukkig het die opkomende ster, Dani Villé, genoeg van beide om haar ’n blink toekoms te verseker.

Hierdie jong musikant se eerste enkelsnit, Verdwaal, is in Maart 2019 vrygestel en sy is nou terug met haar tweede enkelsnit wat binnekort ’n gunsteling gaan wees op elke Afrikaanse musiekspeellys.

Ek soek net vir jou lê Dani na aan die hart… Die liedjie is ’n fun en quirky liedjie wat haar skoon opgewonde gemaak het toe sy hom klaar geskryf het. Om nie eers te praat van hoe lekker die opneem van die musiekvideo vir haar was nie. Hierdie liedjie gaan oor ’n meisie wat “love at first sight” beleef. Sy weet presies wie en wat sy wil hê, en dan maak sy seker sy kry dit deur om “daring” en confident te wees. Deur hierdie liedjie, wil Dani graag ’n boodskap deurgee van om meer selfvertroue te hê en te gaan vir dit wat jy in sig het, en dit met albei hande styf vas gryp!

Kyk die musiekvideo hier:

Om impulsiewe besluite te neem, want soms is daai besluite die beste besluite van jou lewe! En finaal, om net die lewe te geniet. Volgens dié veelsydige ster, is hierdie fase van haar loopbaan ’n groot hoogtepunt. “My musiekloopbaan het pas begin en dis tyd vir ’n splinternuwe hoofstuk,” sê sy. “Die dankbaarheid en opgewondenheid wat ek voel oor die geleentheid om my droom en passie te volg, is ’n persoonlike hoogtepunt.”

Dit beteken egter nie dat sy geen ervaring het nie. “Musiek was nog altyd vir my belangrik. Ek kom uit ’n musikale gesin en daar het altyd liedjies in ons huis gespeel en ek het daarby aanklank gevind,” vertel Dani. “Dit is 100% my passie en ek sal verlore wees daarsonder.”

Dani se eerste nie-amptelike verskyning op die verhoog, was toe sy vier was en na ’n DNA Strings-vertoning haarself op die verhoog tuisgemaak het. Sy het dadelik vir die dromme gemik en daar haar eerste ‘les’ by die dromspeler gekry.

Op die ouderdom van vyf het sy haar eerste sangkompetisie gewen en op elf het sy tweede gekom in die Barnyard se musiekkompetisie. Haar prys het die opname van ’n demo-album ingesluit, waarna verskeie suksesse gevolg het.

Na afloop van een van die kompetisies waaraan sy deelgeneem het, is sy deur die bekende Afrikaanse sangeres, Chereé, aangemoedig om op te hou deelneem aan talentkompetisies en te begin optree. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. “Dit is toe ek besluit het om my ’n loopbaan in musiek te volg. Ek werk al vir vyf jaar in die bedryf en kan nie aan enigiets anders dink wat ek eerder sou wou doen nie.”

Dani beskryf haar stem en styl as organies en outentiek en sy bewonder kunstenaars soos Refentse, Karen Zoid, Zolani, Gian Groen, Jeremy Loops, Spoegwolf, Joshua na die Reën en Matthew Mole. “Buiten vir die feit dat hulle ongelooflike musikante is, deel hulle ook waardevolle boodskappe in elke liriek. Dit is wat ek ook graag wil bereik – om getrou te wees aan myself en om my gevoelens en ervaringe deur my musiek weer te gee,” sê sy.

Hierdie doelwit is ook duidelik wanneer jy vir Dani uitvra oor haar gunsteling-aanhaling oor musiek: ‘Musiek praat waar woorde nie kan nie’. “Dit is so waar. Dit gebeur baie dat ek nie woorde het om te sê hoe ek voel nie en dan doen my musiek die praatwerk vir my,” verduidelik sy.

Alhoewel sy reeds baie geleer het, erken sy dat dit nog net die begin is. “Die musiekbedryf het my reeds geleer om geduldig te wees, hard te werk, aan te hou leer en groei, en onafhanklik te wees – want jy moet op jou eie voete kan staan. Maar daar is nog so baie wat ek nie weet nie en ek sien uit daarna om nog baie te leer.”

Nog ’n ding wat sy geleer het, is om haarself uit te daag. “Ek kan nogal skaam wees en nie maklik gesprekke met vreemdelinge begin nie. Om in die bedryf te werk, word jy uitgedaag om uit jou gemaksone te tree en met mense te gesels. Dis nie altyd maklik nie, maar dit help my baie om uit my dop te kruip en meer gemaklik te wees op die verhoog. Verder oefen ek elke dag met my instrumente en is ek die heeltyd besig om te skryf. Dit is belangrik om aan te hou groei en jouself te verbeter.”