FOTO: Verskaf
Onplaats is Andries Bezuidenhout se derde solo-album. Dit bevat twaalf oorspronklike komposisies, waarvan die lirieke en musiek deur Andries geskryf is, buiten Tussen Platvoet en Stoompomp, waarvan die melodie deur Herman van Veen gekomponeer is. Die album word aan die ou en nuwe Gereformeerde Blues Band opgedra, deels as dankbetuiging teenoor Riku Lätti en Willem Möller, wat elk ʼn belangrike rol gespeel het met die produksie van die album. Riku het gehelp met verwerkings en besluite oor musikante om op van die tracks te speel en Willem Möller het die finale meng en meester van die album behartig.
Tematies handel Onplaats oor Suid-Afrikaanse karakters en die plekke waar hulle hulself bevind, van Elvis du Preez, wat in die 1990’s deur Pretoria se strate stap tot Lukas wat op sy skaatsplank in Johannesburg se middestad rondbeweeg. Daar word gesing oor stasiedorpe sonder stasies en laatnagdrinkers wat die laaste bus huis toe neem. Die verwerkings is meestal akoesties, maar met die ondersteuning van ʼn sterk ritme-seksie en melodieuse agtergrondstemme. Daar word ook van agtergrondklank gebruik om atmosfeer te skep. Hieroor skryf Andries: “Daar’s klanke uit die omgewing, meestal hier uit die Oos-Kaap – die see, die Karoo. My idee is dat mense ook die landskappe moet kan hoor wat in die lirieke beskryf word, daar moet iets bekend aan die oor wees, soos met suksesvolle landskapskilderye wat jou aan ’n plek en atmosfeer wat jy ken herinner.”
Kyk Vertrek se musiekvideo hier:
Wat beteken Onplaats?
Andries se antwoord: “Daar’s twee maniere hoe ek dit titel verstaan. Op een vlak is dit ʼn grappige verwysing na die feit dat ek die album net op die web vrystel. Dis die eerste album wat ek glad nie as CD vrystel nie, laat staan nog vinielplate van laat druk. So, dis nie ʼn plaat nie – dis ʼn onplaat.
“Die ander vlak is meer filosofies van aard. Dit kom uit ʼn gesprek met Herman van Veen (verskoon my, dis nie bedoel as ‘name dropping’ nie). Ek was in 2015 in Nederland om by ‘n Suid-Afrikaanse fees op te tree en hy was die gasheer. Hy het gevra dat ek ‘n liriek moet stuur, wat hy toe getoonset het. Ek het ‘Tussen Platvoet en Stoompomp’ vir hom aangestuur. Dit handel oor iemand wat op ʼn plaas wil woon iewers tussen plekke genaamd Platvoet en Stoompomp. Toevallig is daar werklik sulke plekke in die Vrystaat, maar min mense weet daarvan. Herman van Veen het oor ʼn moontlike Nederlandse vertaling gepraat en hy wou verwys na ʼn plaas (of plaats) ‘tussen niks en nêrens’. Ek wou weet waarom hy nie soortgelyke name soos Platvoet en Stoompomp in Nederland kon vind nie.
“Sy antwoord was dat daar nie ʼn enkele plek in Nederland was wat almal nie van weet nie. Ek het toe ʼn paar name op ʼn kaart gaan soek as voorbeeld, maar in elke geval kon Herman die plek se geskiedenis ophaal – byvoorbeeld dat ʼn biskop daar in, sê nou maar, die jaar 1415 onthoof is. Dit was ʼn interessante punt oor die verskille tussen Nederland en Suid-Afrika. Nederland is meer intiem, aan mekaar bekend, terwyl Suid-Afrika nog plekke het waarvan niemand nog gehoor het nie. Van daar die ‘onplaats’ – ʼn plek wat net in die verbeelding bestaan, ʼn onplek.
Musikante op Onplaats:
Andries Bezuidenhout: stem, staal- en nylonsnaar akoestiese kitare, Emma van Biljon en Lisa Bezuidenhout: kinderstemme, Vangile Bingwa: agtergrondstem en koor, Rosa Da Costa-Bezuidenhout: agtergrondstem en koor, Mark Ellis: baskitaar, Lathitha Espin: agtergrondstem, Joey Kok: agtergrondstem, Jackie Lätti: Koor, Riku Lätti: Elektriese kitaar en klawebord, Jean Marais: dromme en ander perkussie,Willem Möller: elektriese en akoestiese kitaar, Jake Rabie: koor, Lukas van Garderen: klawerbord.
Produksie:
Onplaats is tussen September 2018 en April 2020 opgeneem. Andries se stem en kitare is in Alice, Nieu-Bethesda, Lowlands-landgoed (naby Cradock) en Oos-Londen opgeneem. Vangile se stem is in Alice opgeneem. Joey, Jake, Lathitha, Rosa, Emma en Lisa se stemme, asook Lukas se keyboard, is by Lowlands opgeneem. Drums deur Jean en baskitaar deur Mark is by Mark-Tunes Studio in Stellenbosch opgeneem. Riku se kitare en keyboard en Jackie se vocals is by Wasgoedlyn Studio in Strand opgeneem. Willem Möller se kitaar is by Sharp Street Studio in Glencairn opgeneem. Finale meng en meester deur Willem Möller by Sharp Street Studio in Glencairn.