FOTO: Pixabay
Kan jy glo? Ons is al in die helfte van die jaar. Dit voel soos gister toe ons die nuwe dekade ingewei het onwetend dat ’n piepklein virus ons hele lewe sou kom verander het. Een goeie ding wat egter uit dié pandemie gespruit het, is inbly vermaak…
Nou kan almal Afrikaanse musiek en konserte geniet hetsy op eie bodem of in die buiteland. En daar is genoeg om van te kies en te keur! Ek het persoonlik al ’n hele paar inBLY-konserte geniet op Computicket. Bok Radio se Biltongsessies is net só gewild. Dan is daar ook die My Hart Klop Teater-konsertreeks en so nou en dan ’n kunstenaar wat ’n konsert op Facebook of ander platforms aanbied.
Is dit nie wonderlik nie? Ons kry steeds die kans om ons gunstelingkunstenaar te ondersteun en topklas-vermaak te geniet.
Nóg ’n interessante konsep wat onlangs my oog gevang het is inry konserte – dis soos die goeie oue dae toe ons inry teater toe kon gaan – konsert kyk vanuit jou motor.
Covid-19 mag dalk die mat onder ons voete kom uitruk het, maar eending is seker: dit het ons uit die boks laat dink en ek is seker daar’s soveel meer moontlikhede om ons “saam” te bring al is ons nie werklik saam.
Tot ons weer gesels – bly warm, bly veilig en bly gesond.
Groete