FOTO: Verskaf
Imke van der Merwe het verlede jaar haar vrese opsy geskuif en het uiteindelik een van haar groot drome laat waar word.
Dié sangres het pas haar eerste enklsnit Oud word saam met jou, uit Riana Nel se pen, uitgereik. “Ek het vir ’n hele paar jaar Riana se kontakbesonderhede gehad, maar nooit die moed gehad om haar te kontak nie. Desember 2019 het ek besluit om haar wel te kontak en haar raad te vra. Ek het nie verwag dat sy sal terugstuur nie, bloot omdat soveel mense haar moontlik besig genoeg hou. ’n Paar minute later het sy haar raad met soveel vriendelikheid aan my oorgedra. Ek het met die vervaardiger, Gideon Botes, begin gesels en ons het besluit om vir Riana te betrek. Ek was kinderlik opgewonde toe sy instem om my deur hierdie proses te lei. Sy het toe die liedjie aan my voorgelê en ek was dadelik verlief op die liedjie,” vertel Imke.
Imke sê toe Riana die liedjie vir haar gespeel het, het sy dadelik geweet dat sy dié liedjie in die wêreld wil stuur. “Die woorde en betekenis agter die liedjie praat met my. In ’n verhouding of huwelik kan ons soms oor die kleinste goedjies stry, maar die groter dinge in die lewe hou ons staande en maak dat ons saam deur dik en dun wil gaan en dat ons saam wil oud word.”
Luister na die liedjie hier:
Volgens die blondekop behoort almal wat glo in die liefde die liedjie met ope arms te ontvang. “Ek dink ons almal kry maar stry oor baie dingetjies in die lewe en soms wonder jy dalk of dit net in jou verhouding of huwelik so gaan. Die liedjie bied gemoedsrus dat jy dit nie alleen ervaar nie en sit dan ’n glimlag op jou gesig die oomblik wanneer jy besef dat die groter goed in die lewe belangriker is.”
Imke het op die Platteland grootgeword en haar studies voltooi aan die NoordWes Universiteit op Potchefstroom. Vanjaar is haar eerste jaar in die musiekbedryf. “Ek’s al van kleins af lief vir musiek.”
Sy wil graag ’n dans nommertjie saam met Brendan Peyper aanpak en noem dat musiek van Jay, Lianie May, Dewald Wasserfall, Corlea en natuurlik Riana Nel haar musiekstyl beinvloed.
Vra jy haar watter beroep sy sou beoefen sou, antwoord sy: “’n Onderwyser”. En wat het sy tot dusver geleer uit die musiekbedryf? “Om aan te hou. ’n Mens is geneig om gou handdoek in te gooi – veral wanneer die oomblik te groot raak en jou bangmaak, maar jy kan dit nie doen as jy met jou droom besig is nie. Soos Ellen Johnson Sirleaf gesê het: ‘If your dreams do not scare you, they are not big enough.’”
Tans is sy besig om haar eerste enkelsnit aan almal bekend te stel en sy is ook besig met nuwe musiek.