Bottomless Coffee Band se nuwe enkelsnit vang ’n oomblik in ons wêreld vas

FOTO: Verskaf

Die man en vrou-duo, Lourens en Esté Rabe wat as die groep, Bottomless Coffee Band, bekend staan se nuwe enkelsnit is pas vrygestel en vang die sentiment van hierdie interessante tyd in ons wêreld vas. 

Die mens, in sy verganklikheid, was ewe skielik alles en niks. Dis ’n lied vir die tye, ’n lied vir die mense. Alles en Niks is die eerste enkelsnit van hul album Prediker wat later hierdie jaar die lig sien. 

Alles en Niks is ons nuutste vrystelling en ook die eerste in ’n reeks van werk wat ons tydens lockdown gedoen het. Later hierdie jaar sit ons dit alles saam uit in ’n nuwe album met die naam Prediker. Ons het gekies om die beste te maak van die tyd-geskenk en om die onsekerheid en onvoorspelbaarheid om te sit in inspirasie – dit was soos brandstof vir ons kreatiwiteit. En alhoewel ons bewus is van die implikasies van die onverwagse pandemie van 2020, kon ons nie vir ’n beter tyd gevra het om ’n skrywers ‘wegbreek’ in isolasie te hê nie,” vertel Esté.

Die liedjie is gedeeltelik voor die streng inperking opgeneem en tydens vlak vyf is daar heen en weer tussen die band en Stereo Hills gewerskaf om dit klaar te maak. Die musiekvideo is deur Schalk Hanekom gemaak. Hy was ook vir meeste ander vidoes vir die Bottomless Coffee Band verantwoordelik en het daardie beeldmateriaal ingespan saam met ekstra materiaal wat Lourens en Esté in hulle sitkamer geskiet het tydens inperking. Dit was eintlik ook ’n produk van digitale samewerking om hierdie lied vlerke te gee om in hierdie tyd vry te stel. 

Kyk die musiekvideo hier:

“Ons hoop dit kan jou ook so na aan die hart lê as vir ons,” vertel Lourens.

Die paartjie is ook bedrywig met die vervaardiging en opname van hulle eie potgooi-kanaal en bied aanlyn konserte, genaamd “Koffie, Musiek & Wyn” aan. 

Alles en Niks is nou op alle digitale musiekplatvorms beskikbaar.