FOTO: Verskaf
“Ek skryf nie om op mense ’n indruk te maak nie, ek skryf om hulle te beweeg.”
Só sê die sanger en gesoute liedjieskrywer Rudi Claase, wie onlangs ’n nuwe weergawe van Ek haal weer asem, saam met Nádine opgeneem het. Rudi het dié treffer reeds ’n paar jaar terug gepen en Nádine het dit as ’n enkelsnit vrygestel. Maar nou is die tyd reg om die storie te vertel…
“Ek glo dat sommige liedjies soos goeie wyn, beter raak met tyd. Hierdie was een van daardie liedjies wat so ’n bietjie voor sy tyd wou dans,” het Rudi gesê.
Rudi sê dat hy die liedjie wou herorkestreer, opbreuk in ’n sagter, tenger plek sodat die woorde wérklik kan lewe. Hy en Nádine is vir lank al vriende en elke kuier eindig gewoonlik agter die klavier met ’n liedjie of twee.
“Ons stemme hou per toeval hande vas en met ’n vokaliteit soos Nádine s’n, kan mens nie anders as om op die room van haar gawe te stap nie. Dit maak sin. Die lied is vir ons albei baie, baie spesiaal en ek dink twee stemme versterk hierdie lied net nóg meer (nie dat Nádine my hulp nodig het nie), maar dit was ’n wonderlike ervaring,” het hy gesê.
Die liedjie herinner jou net weer daaraan dat dit nooit te laat is nie. Dis presies wat enige persoon geestelik weer kan doen as hul net hulself toelaat om weer werklik terug te kyk na wat belangrik is in die lewe.
Luister na die liedjie hier:
“’n Mens kan nie jou geluk in hierdie lewe vasvang in een enkele ding nie, nie eers liefde vir net een persoon nie. In my mening, is die lewe in geheel die liefde wat ons aanmekaar hou. Die Engelse mense sê mos altyd: ‘just breathe’.”
Rudi sê hoop – rou, onaangetasde hoop inspireer hom. “As ek een mens in my lewe met my gawe van God kan hoop gee, kan ek maar my laaste asem uitblaas. Ons is hier om mekaar te dra en ons is hier geplaas om sonlig in die siele van ander te genereer. Daarvoor het mens nie geld of enige aardse besittings nodig nie. Net jou hart, jou geloof en om te weet… daar is ALTYD hoop,” het hy gesê.
Rudi en Nádine se weergawe van Ek haal weer asem is nóú op musiekplatvorms beskikbaar.