FOTO: Jorina Kriel Maas
Die volgende keer wanneer jy op jou rusbank neerplons en moedeloos wonder oor die onseker toekoms van die wêreld, doen jouself ’n guns en luister na Petronel Baard se enkelsnit: Life is Good. Hierdie kabaretster en haar fluweelryke stem met melankoliese, sielvolle aanslag sal jou met heimweë laat hunker na nog en jou vol hoop agterlaat. Dit is dan ook presies waaroor Petronel Baard en Vriende se virtuele konsert gaan. ’n Boodskap van hoop.
Petronel Baard het geen bekendstelling nodig nie. Hierdie Villiersdorp-diamant loop al vir meer as twee dekades diep spore in die musiekbedryf. Sy spog met vele pluimpies in haar hoed, onder andere ’n SAMA-benoeming en twee Geraas-musiektoekennings. Sy is aktief bedrywig op sosiale media en het onlangs tydens die landswye inperking, ’n spesiale vertoning van haar nuutste enkelsnit, Seek the Light, op Mokka/Moccase Facebook-blad gedurende ’n regstreekse stroom gehad. Seek the Light is in samewerking met die talentvolle Gavin Jay opgetower en DJ Keyz het dit opgeneem, vervaardig en gemeng. Hierdie snit spog met haar veelsydigheid as sangeres en lewer klanke met diep huis/transmusiek ritmes. Die musiekvideo wat reeds met duisende kykersgetalle spog is op haar YouTube-kanaal en Facebook-blad te siene. Sy hou daarvan om rond te speel in verskeie genres en bewys keer op keer dat ware talent geen perke ken nie.
Petronel Baard, haar musikant-vriende en mede-kunstenaars het met ’n briljante inisiatief vorendag gekom om jou dag op te kikker. Hierdie baie diverse groep musikante het ingestem om ’n virtuele konsert aanmekaar te sit waar jy in die gemak van jou eie huis kan luister na die snitte van ieder en elk. Volgens Petronel is die idee gebore uit soortgelyke Sondagaand-kuiers deur Lang Vrou Produksies en kie oor die kuberruimte. Petronel en haar plaaslike kunstenaars-vriende vat raak met hierdie projek. Die doel hiervan – om hoop te bring tydens die onseker tye wat ons tans beleef.
Dis ’n elle-lange lys propvol gesogte talent waartydens vriend en kennis van Petronel elkeen hulle tuisvideo-opnames gaan saamflans en uitsaai in ’n indrukwekkende, verbeeldingsryke, virtuele vertoning. Petronel praat met lof oor die talent wat in samewerking met haar op die 31ste Mei “konsert gaan hou”. Onder andere is daar die fantastiese sanger en musikant, Jannie du Toit. Hierdie musiekreus was betrokke by JNS musiek, die platemaatskappy wat haar eerste twee albums vrygestel het. Dan is daar die legendariese saksofoonspeler McCoy Mrubata wat op haar eerste album, 20 jaar gelede gespeel het, Godfrey Johnson van Evita se Perronwat sy sedert 2001, tydens haar tweede album Déjà vu, se lewendige opname, ken. Die suiwer stem van Luna Paige, jare lange vriende Riku en Jackie Lätti, die talentvolle Jean Tunes Marais van Tunes Studio Stellenbosch wat iets baie spesiaal doen, die onvergeetlike skrywer en kustenaar, Riana Scheepers en Philippe Kangi met sy prettige Franse musiek. Ander bekendes soos die briljante pianis Ben Schoeman, die liedjiereus, Stef Kruger en haar kosbare musiekvriende van Soetmelk, Schalk Maas en Altan Ungerer sal ook bydra tot verrigtinge en natuurlik sal Gavin Jay ook ’n elegante buiging maak.
Petronel het ’n stukkie geskiedenis, jare se vriendskap en en ’n storie saam met elkeen van die kunstenaars en sy borrel van opgewondenheid oor die geleentheid. “Dit gaan wonderlik wees.” As jy wonder wat om te verwag, gaan kyk gerus na die voorsmakie op haar Facebook-blad en YouTube-kanaal of gaan luister na die spesiale speellys wat Petronel persoonlik uitgekies het om hierdie virtuele ervaring te bemark.
‘n Mens kan nie anders as om dankbaar en trots te wees dat Petronel Baard en hierdie lang lys van talent vir ons hoop bring nie. Soos die lirieke uit haar enkelsnit, Life is Good vir ons vertel: “Hold on to this life with all your might, seek the light in every fight you fight”. Doen jouself ’n guns en kry nou jou kaartjie by Quicklet South Africa of bespreek deur die Pierneef Teater, Pretoria.
Skakel in en weet maar reeds, jy sal defnitief vol hoop en lewenslus van die “moedelose” bank opspring en met ’n glimlag besef: Ons roei nou almal in dieselfde bootjie, maar saam sal ons die storms oorleef.
Hoe om te bespreek:
- Bespreek jou kaartjie en stuur jou besonderhede en bewys van betaling met die verwysing “Petronel & Friends” na petronel.baard@gmail.com
LANG VROU
Capitec
Rek nr 1455764424
Takkode 470010 (Mosselbaai)
- Gebruik die Quicket link. Onthou om eers aan te teken en dan kan jy van die verskeie opsies kies om betaling te doen.
- Bespreek jou kaartjie deur die Pierneef Teater.
KOMPETISIE:
Wen kaartjies vir die vertoning! Cordis Trust het 14 kaartjies om weg te gee. Al wat jy hoef te doen is om die volgende vraag te beantwoord: Wie het kaartjies geborg vir die vertoning van Petronel & Vriende, ’n boodskap van hoop?Die eerste 8 persone wat die korrekte antwoord stuur na Petronel se ‘inbox’ op Facebook, of na petronel.baard@gmail.com, sal die kaartjies wen!