Dozi gaan terug na sy ‘ou klank’ met negentiende-album

FOTO: Vonk Musiek

Dozi se splinternuwe album Vrede word eersdaags uitgereik en ons het tien vrae vir dié sanger gevra. 

Jy het vir ’n ruk ander se loopbane ondersteun. Waarom die besluit om terug te keer na die kollig? 

Ek het vir ’n lang tyd ’n restaurant bestuur (Dozi, Back to the Roots – wat ek nie gedink het gaan so groei nie, maar op die einde ’n 2000 seater was) waar ek saam met kunstenaars opgetree het. Ek was dus nog die heeltyd met musiek betrokke, maar het nie so baie buite gaan “show” nie. Maar musiek is en sal altyd my eerste liefde bly.

Dis jou negentiende album. Wat maak dié een so besonders? 

Vir die eerste keer in negentien albums, keer ek terug na die “ou” Dozi sound. Ek het dit op my plaas opgeneem en was heeltyd in beheer van al die musiek.

LEES OOK: Dozi is terug met ’n nuwe enkelsnit!

Jy en Stef Kruger het nou saam gewerk aan die album. Hoe was dit om saam met Stef te werk? 

Volgens my dink ek ek en Stef is ’n baie goeie kombinasie wat musiek, lirieke en uitvoering aanbetref. Ons werk al baie jare saam, maar hierdie keer het ons baie nou saamgewerk en saam in een huis gebly.

Die titelsnit van die album is Vrede. Waar vind jy ‘vrede’? 

Die naam van die album Vrede, het alles te doen met waar ek op die oomblik in my lewe is. Vrede is binne jouself en by die plek waar jy bly. En hier op my plasie, is NET vrede.

Hoe het jy gegroei van jou eerste album tot nou? 

Ek dink van my eerste album tot nou (het in 1988 in pubs begin speel en net covers gesing) weet ek nou meer van musiek en weet hoekom musiek is hoe dit is. Ek het dit nooit in die begin geweet nie. 

Vertel ons iets wat nie almal van jou weet. 

Ek het begin groente plant op my plaas en my swembad verander in ’n visdam waaruit ek besproeing gaan doen.

Jy tree gereeld saam met ander plaaslike talent op by jou kuierplek op Harties. Saam wie jy wil jy nog die verhoog deel? 

Ek sal graag met Jan Blohm en Dan Patlansky die verhoog wil deel.

As jy een kunstenaar kan uitsonder saam wie jy die verhoog al gedeel het, wie sal dit wees? 

Theuns Jordaan. Ons twee het ’n lekker vibe op stage en dis lekker om saam met hom te show.

Wat motiveer jou in die lewe? 

Die feit dat ek weet ek het ’n talent motiveer my. Die enigste ding wat mens in die lewe moet hê is ’n talent. Dis al wat ek ken. Musiek. En ek dink elke persoon daarbuite het ’n talent vir iets. En dit moet hulle motiveer.

Watter raad het jy vir opkomende kunstenaar in die musiekbedryf? 

WERK HARD. Jy moet so lief wees vir musiek, al het jy niks op aarde nie en jy het musiek, is jy dood tevrede.