Stiaan Reynierse se musiekvideo is ’n ‘kreet in moeilike tye’

FOTO: Verskaf

Stiaan Reynierse is ’n storieverteller van formaat. Met sy diep stem en dieper hart werk Stiaan al vir jare aan sy kuns – ’n vakman van liedjies komponeer. Hy’t reeds die soet smaak van sukses geproe met ’n SAMA-benoeming vir sy debuutalbum Sonde. En nou is die denker en dromer terug met nuwe musiek… eerlike, opregte en sielsmusiek! 

“Dit gaan oor liefde, geloof en om op te staan nadat jy geval het. Om vir vergifnis te vra. Dis waar ek my eie demoms face en my eie spoke moet fight. Die binne-battle met myself,” vertel Stiaan oor die enkelsnit wat Dors heet.

Alhoewel die temas te doen het met soveel interne konflik, skryf Stiaan nie net musiek vir homself nie. “Die wat dit gaan luister, is die wat dit móés luister. As ek net een ou kan laat besef, dat hy nie alleen is in sy struggle nie, voel ek dat ek my job gedoen het.”

Die liedjie is opgeneem deur Theo Crous by Bellville Studios, en het vir Stiaan die geleentheid gebied om saam met ikone in die musiekbedryf te werk. “Ek wil graag dankie sê vir Marius Nel, Eugene Pretorius, Theo Crous, Francis Grobler en alle musikante betrokke. Nathan Smith, Sergio Berbosa, Tim Rankin, Kyle Petersen en Paul Andre Blom (Flamedrop Productions).”

Kyk die musiekvideo eksklusief hier:

“Ek was gelukkig om in ’n huis groot te word waar musiek soos Johnny Cash, Rodriquez, Bob Dylan, Leonard Cohen, Pink Floyd, Kris Kristofferson, Die Story Tellers, die heeltyd gespeel het. Later het ek groot aanklank by Pearl Jam, Audioslave en Kings of Leon gevind.”

“Ek voel genuine vir die eerste keer in my lewe dat ek kan doen en wys wat regtig in my hart aangaan. Dis wat ek nog altyd met my musiek wou doen. My insoirasie is my iefde vir musiek.  Dis al wat ek ken. True to yourself.”