Die Heuwel Fantasties se nuwe album is hier – kry só een gratis

FOTO: André Badenhorst

Die Heuwels Fantasties (DHF) se splinternuwe album, 2021, is pas op digitale musiekplatvorms vrygestel en op Saterdag, 30 Mei gaan dié groep die internet op horings neem wanneer hul die album met ’n aanlyn-vrystellingskonsert bekendstel. 

“Ons is opgewonde om vir die eerste keer ons album met ’n full live show aanlyn te doen. Ons stuur ons nuwe album na julle oor die golwe van die internet met visuals, beligting, die volle band en een honderd persent LIVE direk na jou huis. Ons is opgewonde dat almal kan intune van enige plek in die wêreld… dit gaan ’n treat wees,” het Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels, gesê. 

Die nuwe album bevat vyftien oorwurms en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Soos oudergewoonte het DHF met verskeie kunstenaars op die album gewerk – Arno Carstens, Tarryn Lamb, Jack Parrow, Francois van Coke, Johnny de Ridder, Ampie, TJ Terblanché en Pierre Pressure is van die stemme wat saam met DHF gehoor kan word. 

DHF se liedjies is vir meer as ’n dekade al deel van die Suid-Afrikaanse musiek-kultuur en volgens Pierre probeer hulle om met elke album hul eie tydstip en progressie vas te vang. “Die nuwe album het dalk ’n bietjie van ons debuutalbum se energie, maar ’n titsel wilder as die wildtuin. Ek dink nie ons het noodwendig iets heeltemal nuut probeer nie, maar ons het wel probeer om wat voorheen al gehoor is van ons af dalk te verfyn en te vereenvoudig. Die kunstenaars met wie ons saamgewerk het het 100% gegee. Al wat ek kan sê is dat dit moeilik is om ’n favourite op die album te kies. Elke song het uitgekom presies soos ons dit wou hê en ons kan nie wag om dit met almal te deel nie,” het hy gesê.

LEES OOK: DHF sing oor versoening, vriendskap, samesyn in nuwe enkelsnit

2021 het ’n DIY, doen jou eie ding, wees uniek, wees jouself, ons is almal een, bring jouself na die paartie- tipe aanslag. Met liedjies soos Min worries en Ons moet leef het ons probeer om die hede, die verlede en die toekoms te verbind in een algehele gevoel van selfbewusheid en ’n sterk sin van menslikheid en empatie. Ons kuns is om ander in te sluit. Eenheid in plaas van segregasie. Juis die talle collabs. En collabs regdeur die proses. Van komposisie tot produksie en optrede. Wat dié een anders maak is dat die album klaargemaak is in die tyd van kwarantyn. En die pylvlak is waar alles bymekaarkom. Juis die oordrewe en amper oorweldigende gevoel van mense-verlange en samesyn. Die titel 2021 is ’n projeksie van hoop, dat die lewe weer volgende jaar makliker sal kan voortgaan,” het Fred den Hartog op sy beurt gesê.

Kry die album hier op Apple Music:

Kaartjies vir DHF se aanlyn albumbekendstelling is nóú te koop teen R150 en kaartjiehouers ontvang elk ’n gratis digitale kopie van die nuwe album. 

Jy kan ook ’n gratis digitale album ontvang wanneer jy enige DHF produkte en handelsmerke op hul aanlynwinkel aanskaf. Klik hier vir dié winkel.