FOTO: Verskaf
Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige daarna verwys, is aan die orde van die dag. Jay, Leah, André Schwartz, Willem Botha, Lee Scott en Reynhardt Hugo is reg om die koue te blus met witwarm aanlyn konserte.
Potjiekos met Jay
Saterdag, 23 Mei vanaf 19:00
R100
Jay se aanhangers is al uitgehonger om saam met hom te kuier en op Saterdag, 23 Mei kan hulle hul lippe aflek vir Potjie is Groot saam met Jay. Met dié aanlyn-vertoning gaan Jay konsertgangers bederf met sy grootste treffers en terwyl hy konsert hou, slaan hy ook ’n potjie aanmekaar.
Jay het onlangs sy nuutste enkelsnit, Ry Hom Soos ’n Rental, vrygestel en dit sal ook die eerste keer wees dat hy dit in lewende lywe vir sy aanhangers gaan sing.
Hier’s die resep vir Jay se beloofde pot:
BESTANDDELE
- 1 Pak skaapskenkels
- 1 Knoppies sampioene
- 1 Groot botterskorsie, in skywe gesny
- 5 Aartappels, in kwarte gesny
- 2 Groen soetrissie (green pepper), gesny
- ’n 1L Coke
- 1 Bief- en hoenderblokkies
- 2 Uie opgesny
- Botter
- 1 Sakkie geelwortels, gesny
- 1 Pakkie suikermielies, gesny
- Vars knoffel
- 1 Pak groenbone
- Swartpeper
- 250ml Vars room
- Sampioensop
- Bruin uie sop
- Blatjan
- Worcester-sous
METODE
- Braai die uie in botter en haal uit.
- Braai die sampioene en knoffel in botter en haal uit.
- Braai helfte van die groen soetrissie in die botter en haal uit.
- Braai die skaapskenkels tot dit mooi seël. Voeg die 1L Coke by en krummel die bief- en hoenderblokkie. Los die pot om te prut vir so 15 minute.
- Voeg die swartpeper en uie by en kook vir so 20 minute.
- Voeg die aartappels, suikermielies, die res van die groen soetrissies en geelwortels by en kook tot die aartappels sag is.
- Voeg die sampioene, die groenbone en die vars room by. Volg op met die skywe botterskorsie en botter bo-op en laat die pot prut vir 10 tot 15 minute.
- Meng die sampioensop, bruin uiesop, worcester-sous en blatjan met ’n ¾ koppie water. Voeg die mengsel by die pot en laat prut vir nog 15 minute.
- Laat staan vir 10 minute en bedien.
Bok Radio biltong sessie met André Schwartz
Sondag, 24 Mei
R45
Met die asemrowende natuurskoon van André Schwartz se plaas as agtergrond, kan jy eerskomende Sondag, 24 Mei saam met hom aanlyn kuier. André hou konsert as deel van die gewilde Biltong Sessies-reeks saam met Wimpie van Bok Radio en BokTV.
Dié plaaskonsert gaan ’n buitelug-konsert op sy grasperk, op die plaas, wees en wie weet – dalk maak ’n perd, ’n potbelly of ’n driebeen-hond dalk hul verskyning in hierdie intieme optrede met André en sy reuse vleuelklavier.
Jy kan soos altyd musiek uit musicals tot pop-treffers en intieme klavier oomblikke met verwerkings van ander snitte verwag. Die kuier sal jou siel voed want André is nou maar eens ’n talent soos min.
’n Persentasie van die inkomste uit kaartjieverkope skenk André aan die Suid-Afrikaanse Motor Neuron Stigting aangesien hy self ’n MNS-lyer is. Moenie hierdie eens-in-’n-leeftyd belewenis saam met André misloop nie.
Bok Radio biltong sessie met Reynardt, Willem en Lee
Woensdag, 27 Mei
R45
Maak seker jy kry jou kaartjie vir hierdie trippeldosis vermaak. ’n Lekker aanlynkonsert met Willem Botha, Reynardt Hugo en Lee Scott as deel van Bok Radio en BokTV se Biltong Sessies met Wimpie.
Vir die eerste keer ooit gaan dié drie op Woensdag, 27 Mei, saam konsert hou. Natuurlik gaan elkeen jou gunsteling treffers vanaf hul eie albums doen en vermeng met hul stories. Die drie sal ook sorg vir saamsing treffers wat jou behoorlik aan die kuier sal kry.
Dié konsert beloof om elektries te wees en oud en jonk sal hierdie een geniet. Maak seker jy mis nie hierdie once-off konsert met Willem Botha, Reynardt Hugo en Lee Scott nie en dit alles vir slegs R45. ’n Persentasie van die inkomste word geskenk aan die Abraham Kriel Kinderhuis om hulle ook te help in hierdie moeilike tyd.
Bok Radio biltong sessie met Leah
Vrydag, 29 Mei
R45
Leah hou ’n energie belaaide konsert soos net sy kan en haar getroue kitaarspeler maak ook ’n draai.
’n Persentasie van die inkomste word geskenk aan Huis Jabes om hulle ook te help in hierdie moeilike tyd.