FOTO: Verskaf
Kirsten Richard se nuwe enkelsnit Ons is Groot plaas die soeklig op verhoudings en die impak wat die dood op verhoudings het. Dié enkelsnit uit Kirsten se eie pen is uit die oogpunt van iemand wat oorlede is en wat terugkyk na die lewe en geliefdes en besef dat hul obsessie met die idee van groot word hul van ware geluk weerhou het.
“Die persoon is nou groot, maar besef te laat dat die lewe nie oor groot wees gaan nie, maar oor die reis van groot word,” het Kirsten gesê. Volgens Kirsten skryf hy juis self sy musiek omdat dit sy emosies en gevoelens so akkuraat moontlik vasvang.
“Ek het al op ’n jong ouderdom persoonlik die dood ervaar toe my pa in ’n motorfiets ongeluk oorlede is. Hy het ook, soos meeste mense, altyd gestreef om meer te bereik en om groter as sy omstandighede te word, maar die dood neem nie jou drome en begeertes in ag. Die skielikheid van sy dood het my laat besef hoe belangrik dit is om elke oomblik van jou lewe te koester en eerder te fokus op die nou, want dit is al wat ons het,” vertel Kirsten verder.
Kirsten sê dat hy nodig gehad het om van al sy emosies rakende die dood en die impak wat dit op verhoudings het, ontslae te raak en daarom die besluit geneem om dit op papier vas te vang.
“Ek wil graag hê dat mense nie net my boodskap in my musiek moet raak sien nie, maar dat hulle dit ervaar in hul eie manier en die woorde ’n nuwe betekenis gee wat van toepassing is op hulle lewens.”
Die boodskap agter die liedjie is iets waarmee meeste sal kan vergelyk. Almal is betrokke in verhoudings en ongelukkig het almal een of ander tyd te doen met die dood van ’n geliefde.
Kirsten weet presies hoe hy dié liedjie visueel wil uitbeeld… “Ek wil graag die emosie agter die liedjie vasvang en dit tot die beste van my vermoë in ’n visuele manier uitbeeld,” vertel hy opgewonde.
Kyk die musiekvideo hier:
Musiek was nog altyd deel van Kirsten se lewe. Dit was egter op hoërskool waar die gogga behoorlik gebyt het. Op sewe het hy kitaarlesse geneem en is die afgelope 13 jaar bruis musiek deur sy are.
Spoegwolf, Jan Blohm en Francois van Coke se musiek inspireer Kirsten en hy sal graag eendag saam met hulle wil werk. “Ek glo ’n lied moet heel eerste ’n gedig wees, voor dit goeie lirieke kan wees. Ek geniet dit uitdaging om emosies in woorde te omskep omdat dit juis iets so onbeskryflik is. So my emosies is seker my grootste motivering en inspirasie agter my musiek.”
Kirsten studeer tans Bcom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria. En natuurlik werk hy aan sy album wat binnekort die lig behoort te sien!