Liefde floreer steeds in Christia-enkelsnit ten spyte van uitgestelde troue

FOTO: Verskaf

Christia Visser sou in April vanjaar voor die kansel staan, maar weens die inperking as gevolg van die Covid-19 pandemie is dié trou kort geknip. Maar dit het nie die sangeres en aktrise gekeer om steeds die liedjie waarmee sy die paadjie sou afstap met die res van Suid-Afrika te deel… 

Kaal voor Jou is vanaf vandag op alle digitale musiekplatvorms beskikbaar en gaan daaroor dat jy iemand so tenvolle vertrou dat jy bereid is om jou weerlose-self voor hulle te wees. Die klanke is ietwat anders vervaardig as haar vorige twee snitte 17 Shots en Die Deur en bring ’n nuwe vars aanslag na vore. 

Luister na ’n voorskou:

Christia sê sy gaan steeds die liedjie vir haar troudag gebruik – waar haar verloofde, Thomas Webb, dit vir die eerste keer sou hoor. Sy het egter kreatief geraak en dit onlangs tydens ’n spesiale oomblik vir hom gespeel. 

“Ek het kerse aangesteek en sushi bestel. Ons het in ons sitkamer op die mat gesit en ek het die liedjie vir hom gespeel. Dit was privaat en intiem. Presies soos dit hoort,” het sy gesê.

“Die amptelike troue is uitgestel tot verdere kennisgewing. Ons beoog wel om so gou moonltik ons beloftes aan mekaar te maak. Alles is baie opwindend. Ons trou meer as een keer en ek sal ’n honderd keer met hom trou.”

Die liedjie wys dat Christia Visser haarself vestig as ’n voorloper in die musiekbedryf met nuwe klanke en eerlike lirieke waarmee aanhangers sal aanklank vind.

“Ek beoog om altyd eg te wees. Ek skryf wat ek voel. Daar word so baie geskryf oor die liefde. Ek wou seker wees hierdie een is eie aan ons,” het Christia gesê.

Christia het die musiekbedryf betree met haar eerste enkelsnit 17 Shots in Maart 2019. Dié treffer het oornag ’n gunsteling onder Suid-Afrikaners geword en reeds meer as twee miljoen trefslae op YouTube verby gesteek.

In Augustus 2019 sien Die Deur die lig en spog tans met een miljoen kyke op YouTube. Die snit wys ook waarom Christia een van die grootste en geliefste vroulike kunstenaars is. 

Met die nuwe enkelsnit oortuig sy net weer waarom sy hier is om te bly en kan aanhangers uitsien na ’n unieke treffer nes Christia kan.