Kontras wil ma’s, vrouens eer met nuwe enkelsnit

FOTO: Paige Fiddes  

Suid-Afrika se nuutste sensasie, Kontras, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Die Happy Song. Dié enkelsnit is die tweede van hul debuutalbum Ruimtevaarder en volg kort op die hakke van hul vorige enkelsnit – Velde!

Met Die Happy Song wil Kontras ’n huldeblyk aan ma’s, vrouens en enigiemand wat deur ’n moeilike tyd moes gaan doen. “Dit begin met net ’n akoestiese kitaar en stadig maar seker word die liedjie ryker met meer stemme, kitare en dromme. Dis ’n hartroerende treffer wat beloof om elkeen ’n traan te laat pink,” het Andrew Veldman, kitaarspeler en bemarkingsbestuurder van Kontras, gesê.

Luister na ’n voorskou hier:

Sedert die bekendstelling van Kontras se debuut-enkelsnit Middelklas Middelmaan het hul verskeie sukses behaal. Die musiekvideo is tans te sien op kykNET se musiekkanaal kykNET NOU. Hulle is ook met lof besing in Huisgenoot. Verder het talle aanlyn publikasies dié groep ondersteun terwyl radiostasies reg oor die land nie genoeg kon kry van hul enkelsnit.

“Met hul unike talent wat inderdaad in kontras met so baie ander Afrikaanse musiek is, is dit nie ’n verrassing dat Kontras een van daardie groepe is wat met geen ander vergelyk kan word nie,” het Ian Bredenkamp destyds gesê.

Middelklas Middelmaan is ook deel van die Alternatief is Groot-speellys op Spotify. En Spotify self het dié liedjie ook deel van die Afrikaans Pop Hits-speellys gemaak. Apple Music het op hul beurt dit by die Alternatiewe Afrikaans-speellys gevoeg.

Hul grootste hoogetpunt was om verhoë met onder meer Fokofpolosiekar, Jack Parrow, The Kiffness, Straatligkinders, EarlyB, Tasché, Van Pletzen en Die Heuwels Fantasties te kon deel.