FOTO: Verskaf
Belia Lourens het onlangs haar album waar sy hulde bring aan wyle Janita Claassen uitgereik. Ons het met dié sopraan gaan gesels…
Vertel ons meer van jou album.
Hierdie album is ’n puik samestelling van die beste liedjies van Janita Claassen. Alhoewel baie van hierdie liedjies in die laat tagtigs opgeneem is, was daar baie ruimte om dit nuut te verwerk en noutyds op te neem.
Waarom het jy besluit om Janita Claassen se musiek op te neem?
Janita se liedjies is werklik ’n skatkis vol juwele wat nie verlore mag gaan nie. Haar liedjies vereis vertolking en het pragtige melodieë. Ek kon hulde bring aan Janita deur die herlewing van haar musiek, maar om soos Belia te klink.
Wie is Belia in ’n neutedop?
Ek het geleer dat balans my redding is. Ek moet op ’n manier kreatief wees. Of ek nou aan my blog skryf, aan nuwe liedjies werk, die bestaandes inoefen of sommer net brei. Ek nodig agt ure slaap. Ek moet erken my vel is maar dun, maar werk hard daaraan om geen negatiewe kritiek aan te trek nie. Indien daar potensiaal insteek, maak ek werk daarvan. Ek hou van orde. My brein wil nie funksioneer as daar nie orde rondom my is nie. Die see is my medi-clinic. Dis daar waar ek weer myself bymekaar kry. Piet is al van skooldae af deel van my lewe en steeds kan ek my nie ’n lewe sonder hom voorstel nie. My kinders en kleinkinders laat my nuut na die lewe kyk. Ek weier om te verstok. Maar ek is ’n alleenloper, ’n dromer en ’n denker.
LEES OOK: Afrikaanse sopraan bring hulde aan Janita Claassen
Watter betekenis het die musiek vir jou?
Ek kan nie met musiek omgaan as dit nie iets in my wakker maak nie. Hierdie musiek raak my. Ek is mal oor die mooi melodielyne en mooi stories. Daar is ’n opregtheid wat my dryf. Ek sal dit dus aand na aand by vertonings kan sing sonder om verveeld te word daarmee. Dit pas my soos ’n handskoen. Ek maak dit my eie en dra dit dan weer oor aan jou met die hoop dat jy iets daarvan ook jou eie kan maak.
Waarom moet mense die album aanskaf?
Daar is ’n varsheid rondom hierdie album wat jou vasvang. Dit klink bekend, maar ook nuut. Dit is die tipe album wat jy oor en oor kan luister en nie moeg word voor nie.
Belia se album is nou op musiekplatvorms beskikbaar!