Die Heuwels Fantasties sing oor versoening, samesyn, vriendskap met nuwe snit

FOTO: Verskaf

Die Heuwels Fantasties se liedjies is al vir jare deel van die Suid Afrikaanse musiek-kultuur en die sukses van die onlangse enkelsnit uitreikings Jy Stel My Teleur en Mejuffrou Sonneblom het weereens bewys dat Die Heuwels Fantasties ongetwyfeld een van ons mees talentvolle en geliefde Afrikaanse groepe is.

Dit is dan ook die merkwaardige ding van Die Heuwels. Net sodra mens dink dit kan nie beter nie, kom hulle met net nog iets ongewoon-treffend vorendag. Ons moet Leef is een van daardie buitengewone liedjies wat alreeds vlamvat onder aanhangers. Fred den Hartog veduidelik hoe die liedjie ontstaan het: “Hierdie song is op ’n warm dag by ’n hotel-swembad in Pretoria gebore. Ampie du Preez en Hunter Kennedy is ou vriende, so dit was net ’n kwessie van tyd voor die Heuwels iets saam met Ampie sou doen. Na ’n paar biere en ’n paar flou grappies het ek my kitaar opgetel en saam met Pierre, Hunter en Ampie begin sing en skryf. Ons moet leef, sê Hunter. Ons moet leef, ons moet lewe, ons moet leer om mekaar te vergewe. Dit is ’n liedjie oor versoening, samesyn, vriendskap en om in die hier en nou te kan wees.”

Vir die maak van Ons moet Leef se video het Die Heuwels Fantasties via sosiale media gevra dat mense tuisvideos instuur vir moontlike oorweging vir gebruik in die storielyn. Hunter Kennedy verduidelik: “Ons het aanvanklik gedink ons moet nou maar net onsself afneem tydens lockdown terwyl ons lawwe goed doen en toe besef ons, maar almal anders is ook verveeld. So hoekom speel ons dan maar nie almal saam nie? Ons is nuuskierig om te weet wat ander mense doen, want julle weet mos, lockdown is nie so moeilik nie, maar dis ook nie so maklik nie. Daar was ’n hele paar inskrywings. Dankie aan almal en geluk aan dié wie se videos dit gemaak het. Ons love die finale video!”

Kyk die musiekvideo hier: 

Ons moet Leef, sowel as Jy Stel My Teleur en Mejuffrou Sonneblom is van die snitte op Die Heuwels Fantasties se vollengte album 2021 wat op 22 Mei uitgereik word. Die album bestaan uit 15 nuwe liedjies en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Klik hier om die album op digitale platvorms voor af te bestel.