Elvis Blue sing oor vriendskappe in isolasie met nuwe lied

FOTO: Verskaf

Musiek bly iets wat mense saam bring, selfs al kan mense nie fisies saam wees nie, en dit bly ’n kragtige medium om woord te gee aan die emosies en gevoelens van so baie mense in hierdie tyd. 

’n Liedjieskrywer soos Elvis Blue se slag met ’n pen en papier het dit nog altyd reg gekry om uiting te gee aan dié gevoelens en in die gesig van hedendaagse uitdagings doen hy dit weer!

“Tye soos die dwing ’n mens om te kyk na wat werklik vir jou belangrik is,” sê Elvis Blue. “Die inperking het my baie laat dink aan eensaamheid en vriendskap. Ek besef so baie mense sit alleen deur die tyd en dit is ’n verskriklike gedagte. Ek dink ook baie aan my eie vriende. Dit is waaroor ek probeer skryf het in die lied. Wat beteken vriendskap vir my? Dit is wanneer iemand bereid is om langs jou te staan, selfs al raak dinge moeilik. Ek hoop ek is só ’n vriend.”

Elvis Blue wys weereens hoekom sy musiek soveel mense diep aanraak en vir baie as die klankbaan van beide swaar en lekker seisoene dien. Met die universele waarheid van vriendskap in ’n seisoen van isolasie, en die outentieke blik “agter die skerms” van Elvis en sy huismense, is die lied en die video beslis in die kol!

Kyk die musiekvideo hier: