FOTO: Verskaf
Met Suid-Afrikansers nou in ’n staat van inperking as gevolg van die Covid-19-viruspandemie, is verskeie feeste en vertonings uitgestel, onder meer David Kramer se KaapKreools – ’n musiekproduksie vervaardig deur die Cape Town Music Academy (CTMA), wat op 27 April in die Kunstekaap by die Suidoosterfees sou debuteer. Maar die KaapKreools-vervaardigers en -geselskap het besluit die vertoning moet voortgaan te midde die krisis…
Om Kapenaars onder korona-huisarres se gemoedere in dié uitdagende tyd te lig, het hulle ’n aanlyn video-weergawe van een van die produksie se liedjies, Welcome to Cape Town gemaak. Kramer het die lirieke ’n bly-by-die-huis boodskap gegee en saam met die CTMA ’n heupswaai-musiekvideo geskep, waarin KaapKreools-musikante en ’n groep van Kaapstad se bekendste en gewildste kunstenaars verskyn.
Kramer is opgewonde oor dié inisiatief: “Ek en wyle Taliep Petersen het Welcome to Cape Town geskryf. Die idee was om besoekers aan te moedig om na Kaapstad te kom en om die Kaapse gees te geniet. Maar vandag, as gevolg van Covid-19, het ons geen besoekers nie en die strate is leeg – die totaal teenoorgestelde beelde as was wat die liedjie gevier het. Dit het my die idee gegee om die lirieke te herskryf en so ons huidige situasie te beskryf. Ek hoop dit sal bietjie vreugde en humor bring in hierdie vreemde tye.”
Die #TsekCorona!-video is geheel en al op selfone verfilm. Benewens die KaapKreools-musikante, spog die video met van Kaapstad se bekendste kunstenaars, wat saam met lede van die Kaapse publiek ook hulle video’s ingestuur het om te wys hoe hulle in en om hul huise pret het deur in isolasie te dans.
Kykers kan uitsien na videogrepe van komediante Marc Lottering, Louw Venter, Rob van Vuuren en Pietman Geldenhuys; akteurs Dean Smith, Theodore Jantjies, Nadia Valvekens, Ivan Zimmerman en Amalia Uys; RSG radio-aanbieder Martelize Brink en musikante Donovan Copley, Frazer Barry, Babalwa Mentjies, Albert Frost, Nick Turner, Luna Paige en Ramon Alexander.
Met talle feeste en vertonings nou gekanselleer of uitgestel, is die vermaaklikheidsbedryf behoorlik in ’n krisis gedompel en bevind baie musikante hulleself sonder werk. Met dié dat KaapKreools een van die Suidoosterfees se programhoogtepunte sou wees, was die fees gretig om betrokke te raak by die #TsekCorona!-initiatief.
Suidoosterfees se uitvoerende hoof, Jana Hattingh, het ’n bemoedigende boodskap vir bekommerde kunstenaars en gehore: “Feeste is komplekse sisteme met verskeie rolspelers, waarvan kunstenaars, gehore en borge die belangrikste is. Baie dankie aan ons borge wat saam met ons planne maak vir die uitgestelde fees. Dankie aan ons kunstenaars vir innoverende idees; ons sal steeds ’n platform vir julle bied en wyses ondersoek waarop ons julle kan bystaan om dié onvoorsiene ontwrigtingstydperk te oorbrug. Dankie aan ons gehore vir julle ondersteuning; bly tuis en bly veilig sodat ons later saam kan feesvier!”
Vicky Davis, medevervaardiger en programbestuurder van die CTMA, meen ’n initiatief soos hierdie kan heelwat gewig dra. “As maatskappy sonder winsbejag wat geleenthede vir kontemporêre musikante in die Wes-Kaap skep, is ons deeglik bewus van die impak van Covid-19 op die bedryf. Vir die Suidoosterfees alleen sou ons elf vertonings vervaardig het – dit sou heelwat werk aan talle kunstenaars en tegnici voorsien het. Maar met hierdie inisiatief skuif ons die fokus eers na ons sosialemediaplatforms, waar ons ’n relevante, positiewe impak kan maak saam met die kunstenaars wat by ons produksies betrokke sou wees.” Davis het mense wat belangstel om ’n donasie te maak of hulp aan musikante wat deur die pandemie geraak is te verleen, aangemoedig om die CTMA te kontak.
“Ons is baie tevrede met die eindproduk en is trots dat dit op radio tussen ander tradisioneel vervaardigde liedjies kan speel,” meen medevervaardiger en KaapKreools se baskitaarspeler, Schalk Joubert. “Die wonderlike ding van tegnologie is dat ons nie ingeperk hoef te wees gedurende hierdie uitdagende tyd nie, ons moet bloot aanpasbaar bly – beperking noodsaak innovasie.”
Kyk die video hier:
KaapKreools sal later vanjaar by die Suidoosterfees opgevoer word. Hou die Suidoosterfees se amptelike sosiale media vir aankondigings dop.