FOTO: Verskaf
Die wêreld word gekonfronteer met ’n aaklige monster, in die vorm van ‘n virus, wat die voortbestaan van die mensdom bedreig en as daar ooit ’n tyd was om hoop onder mense te kweek is dit nóú. Met hul nuwe duet, There Was Jesus, is dit presies wat Demi Lee Moore en Riaan Benadé wil doen.
“Ons is op die oomblik in ’n tyd van soveel onsekerheid en dít maak ons bang. Nou dat ons geforseer word om rustig te raak en daar tyd is vir selfondersoek, het ek self besef hoe kwesbaar en nietig ons almal is,” het Demi Lee Moore gesê.
There Was Jesus is ’n geestelike liedjie, oorspronklik opgeneem deur Dolly Parton en Zac Williams, maar Demi Lee en Riaan se weergawe beloof om luisteraars op ’n emosionele kragtoer te neem. “Riaan het een van die mooiste stemme wat ek al ooit gehoor het. Ek sê nie net so nie,” het Demi Lee gesê.
Sedert die snit op Vrydag 3 April vrygestel is, het hy die nommer 1 posisie op Apple iTunes se top-verkoperslys behaal.
Die musiekvideo oorskry ook grense omdat dit juis in dié tydperk van Suid-Afrika se inperking verfilm is. Demi Lee en Riaan het altwee – in isolasie – ’n kamera in hul huise opgestel en self die beeldmateriaal vir die video verfilm.
Volgens Riaan bied There Was Jesus ’n waarheid en hoop waaraan mense moet vashou. “Dit was nogal uitdagend gewees, maar die doel en boodskap van dié liedjie is so spesiaal en dit het hierdie hele projek net nog meer uniek gemaak,” het Riaan vertel.
Die musiekvideo is ook Vrydag 3 April vrygestel en het soos ‘n veldbrand versprei. Oor die naweek het hy meer as 180 000 kyke geniet en op die nommer 5 posisie, van mees-populêre YouTube videos in Suid-Afrika, gaan lê.
Kyk die video hier:
There Was Jesus word eksklusief as deel van ’n speellys op musiekstromingsdienste vrygestel en dié amptelike Afrikaans is Groot-speellys, getiteld HOOP, is saamgestel deur dieselfde rolspelers wat die immergewilde Afrikaans is Groot-versamelalbums jaar na jaar vrystel.
There Was Jesus kan nóú op die HOOP-speellys geluister word.