Johan Anker bekoor met nuwe enkelsnit!

FOTO: Verskaf

Toe die sanger Johan Anker in 2016 ’n blinde oudisie vir die werklikheidsreeks The Voice SA gedoen het hy die beoordelaars-en-afrigters sowel as kykers met sy natuurlike tenoorstem en sy fenomenale vertolking van Leonard Cohen se liedjie Hallelujah uitgeboul.

In 2017 het Johan die groot stap gewaag en sy debuutalbum Hoop en Bid waarop hy geestelike liedere sing, uitgereik. Hoop en Bid is baie positief ontvang en hy het ’n groot gros aanhangers opgebou. 

Die gelyknamige enkelsnit was baie gewild sowel as sy tweede enkelsnit Deel Dit Uit wat op talle radiostasies onder die top 10 gewildste liedjies gepryk het.

Nou verras Johan weer met ’n splinternuwe en sy derde enkelsnit My Arms, wat deur Vaughan en Nerine Gardner geskryf is en pas uitgereik is. Johan vertel My Arms is ’n kontemporêre ballade met ’n ligte klassieke aanslag.

Die treffende liedjie het ontkiem uit sy persoonlike ervaring. “Ek het saam met Vaughan gesit en hom vertel van hoe ek verlief geraak het, maar ek en die meisie het albei besef dit gaan nie uitwerk nie. Al het die verhouding gesneuwel, is dit bittersoet,” vertel Johan.

Die verteller van die liedjie sê dan ook dat hy enigiets sal doen net om sy geliefde weer vas te hou en die mooi herinneringe weer te beleef. En al is dit als verby, sal sy hart altyd ’n stukkie van die meisie saamdra.

Johan sê al is die liedjie baie persoonlik, het hy tog gevoel dat daar baie luisteraars is wat daarby aanklank kan vind. Talle mense gaan deur liefdesteleurstellings, ons harte word gebreek en dis soms moeilik om aan te beweeg. Ons klou dikwels vas aan daardie laaste stukkie hoop.

Volgens Johan word die liefdesteleurstelling vir ’n verandering uit ’n manlike perspektief in hierdie liedjie benader. “Hopelik kan luisteraars wat al dieselfde pad geloop het, troos vind in die liedjie.”

Die musiekvideo van My Arms word ook saam met die enkelsnit uitgereik. Johan vertel die video is by Ebotse Gholf landgoed in Rynfield Benoni verfilm. 

Lucy van Schalkwyk van ADDVentures en Hercules Botha van ADDMarkable het gehelp om lewe aan my konsep te gee, sê hy. Die aktrise Nadia Herbst wat voorheen in 7de Laan gespeel het, vertolk die verteller se geliefde.

Die storie van die video gaan in ’n neutedop oor ’n verliefde paartjie wat gelukkig in hul huis is, maar dan word dit onderbreek met die realiteit dat die verteller nou alleen is.

Ek wou graag daardie spesiale oomblikke tussen verliefdes soos wanneer hulle saam opstaan in die oggend, koffie drink en tandeborsel of wanneer hulle na werk saam op die bank ontspan met die video vasvang. 

Dis die klein dingetjies wat verliefdes baiekeer as vanselfsprekend aanvaar. En dit is die oomblikke wat jy dan mis en eintlik onthou wanneer die verhouding verby is, vertel Johan.

Kyk die musiekvideo hier:

Johan is in Port Elizabeth gebore en getoë. Hy sing reeds van negejarige ouderdom. “My ouers het gereeld die musiek van Elvis Presley en Gé Korsten geluister en hierdie musiek het die saadjie vir my liefde vir musiek geplant,” onthou hy.

Hy was ook lid van die Drakensbergse Seunskoor en nadat hy in die koor gesing het het hy musiek as vak op skool geneem en sang as instrument. 

Ek het ’n onderskeiding vir my sang gekry en my onderwyser het my aangemoedig om professioneel te sing.

Hy het van 2011 tot 2014 BA Drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en klassieke sang ook as vak geneem.

Johan het in 2015 Johannesburg toe verhuis en is die afgelope vier jaar aktief in die musiekbedryf. Hy tree gereeld met sy program Hoop en Bid by verskeie kerke op waar hy getuienis deur middel van sy musiek lewer. Hy tree ook by kunstefeeste en funksies op.

Hy is tans onderwyser by die Nasionale Skool van die Kunste in Johannesburg waar hy Engels vir graad 11 en graad 12 gee. 

Ek hou daarvan om met kinders te werk en my passie en kennis met hulle te deel, sê hy.

Hy beskryf sy musiek as pop-opera.  Met hierdie nuwe enkelsnit breek ek die eerste keer weg van gospel. 

Maar ek wil nie my aanhangers vervreem nie en sal met my volgende album, waaraan ek reeds werk die twee genres kombineer.  

Hy is voornemens om die nuwe album teen die einde van die jaar of vroeg volgende jaar uit te reik.

Johan glo sing is die beste manier om uiting aan sy gevoelens te gee. Ek verwerk my emosies ook beter wanneer ek liedjies skryf en sing.

Die veelsydige Johan sing en skryf musiek wat met hom resoneer. Die musiek wat ek sing moet persoonlik met my praat of moet iets wees wat ek al ervaar het. Ek weet Afrikaanse gehore hou van eerlikheid. 

As die gehoor jou egtheid aanvoel en voel dis kom uit ’n persoonlike plek en identifiseer makliker daarmee.

Hy bieg hy het reeds ’n paar waardevolle lewenslesse die afgelope paar jaar in die musiekbedryf geleer. 

Ek het geleer dit verg deursettingsvermoë en is nie vir sissies nie. Dis harde werk en toets jou op verskeie vlakke. 

Soms wil jy tou opgooi en jy verloor vertroue in jou eie vermoëns maar dan herhinner ek my daaraan hoekom ek in die eerste plek begin sing het – om mense se harte aan te raak en vir hulle troos te bring.