Reynardt Hugo se solo-enkelsnit kry ’n musiekvideo

FOTO: Verskaf

Reynardt Hugo het beslis geen bekendstelling in vermaakkringe nodig nie. Hy kuier elke aand in sitkamers regoor die land, in die rol van dr. Tertius Jonker op die kykNET-sepie Binnelanders, en was tot onlangs nog deel van die gewilde mansgroep, ADAM.

Dié veelsydige ster se debuut-enkelsnit, Die Rivier, is onlangs vrygestel en het soos ’n veldbrand op sosialemedia versprei. Nóú is die musiekvideo van hierdie liedjie, wat reeds die trefferleer op verskeie radiostasies begin klim het, ook beskikbaar!

LEES OOK: Reynhardt Hugo se eerste solo-enkelsnit is hier

Son Of Wolf Films was die kreatiewe brein agter hierdie besonderse projek wat in ’n teater in Centurion en ’n straat in Parkhurst afspeel. In die video sing Reynardt sy hart uit, terwyl hy op die verhoog is en in die straat loop. Dit dra nie net by tot die opwindende gevoel van die lied nie, maar sal die kyker ook vry en sorgeloos laat voel. “Terwyl ons in die straat verfilm het, het baie mense uit hulle huise geloer om te sien waarmee ons besig was. Dit was seker ’n vreemde gesig, maar ek het elke oomblik geniet,”deel hy ’n staaltjie oor wat agter-die-skerms gebeur het.

Kyk die video hier:

Hierdie inspirerende popsnit, wat hy saam met Abel Knobel en Sean Butler geskryf het, is vir die sanger baie persoonlik omdat sy eie struikelblokke en lewe die inspirasie was agter die betekenisvolle lirieke.

Dis ’n titel waarmee ek al vir baie lank in my hart rondloop,”verklap hy. “Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ’n slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef.”

Die Rivier  is een van daardie liedjies wat onmiddellik jou aandag trek wanneer jy dit hoor, juis omdat dit so anders is, en jou sal uitnooi om saam te neurie om die maat van die motiverende ritme. Volgens Reynardt, sal oud en jonk daarby aanklank vind, omdat dit ’n verskillende betekenis vir elkeen kan inhou.

“Daar is baie temas wat in die liedjie voorkom, maar die hoofboodskap is dat iemand in jou lewe kan inkom om jou te help om die seerkry van die verlede agter te laat. Hoe die Here jou skoonwas van al jou foute en Sy genade oor jou laat spoel,” verduidelik hy. “Baie mense leef met seer en het hulp nodig, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulleself en diegene rondom hulle weer te respekteer, want die lewe gaan oor meer as net seks, dwelms en rock ’n roll.”

Reynardt is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, liedjieskrywer, motiveringspreker en skrywer.Hy werk al sedert 2008 in die vermaakbedryf en het in 2010 saam met Hugo Ludik die groep ADAM begin, wat talle toekennings gewen het en ses albums en talle treffers uitgereik het, waaronder Liefde Soldaat, Kasteel, Hoogtevrees, Sê My, Iets In Die Water en meer. Nadat die groep aan die einde van 2019 ontbind het, het die kunstenaar besluit om op sy solo-musiekloopbaan te fokus. 

Hy is in Durban gebore, maar het aan Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer. Alhoewel hy nog altyd lief was vir musiek, het hy eers in graad-elf ontdek dat hy kan sing en het hy eers na skool besluit dat hy graag wil toneelspeel. Vandaar sy besluit om BA Drama by die Universiteit van Pretoria te studeer, waarna hy ’n rol by Binnelanders losgeslaan het.

Oor die jare was hy deel van verskeie suksesvolle teaterstukke en verhoogproduksieswaaronder Houtkruis, het hy gereeld as seremoniemeester opgetree by funksies en het hy ook gasrolle gehad in rolprente soos Pretville en Vuil Wasgoed. Saam met ADAM het hy verskeie Ghoema-, Huisgenoot Tempo- en SAMA-musiektoekennings gewen en selfs die geleentheid gehad om vir die internasionale groep, Air Supply, te open.

Hy beskryf homself as ’n rustige diere- en koffieliefhebber wat dit geniet om tyd saam met die vrou in sy lewe en hulle honde te spandeer. Verder geniet hy dit ook om tuin te maak, gimnasium toe te gaan en Raakrugby saam met sy vriende te speel.

Coenie de Villiers, Hans Strydom, Dawid Minnaar, Michelle Botes en Ben Kruger word uitgesonder as sy grootste plaaslike rolmodelle in die vermaakbedryf, terwyl Leonardo DiCaprio, Ricky Gervais, Queen en Justin Bieber op internasionale front uitstaan.

Buiten vir die feit dat hy eersdaags met die liefde van sy lewe – An-Maré Roothman – trou, is hy ook besig om te skryf aan ’n boek oor sy lewe, wat hy in samewerking met NB Uitgewers gaan uitgee. Hy speel ook, saam met Leah, die hoofrol in die teaterstuk, Doringrosie, wat in Julie 2020 by die Staatsteater te sien is.   

Die vermaakbedryf het vir Reynardt Hugo geleer om sy voete plat op die aarde te hou en dat harde werk en geduld wel beloon word. Die Rivier is ’n pragtige voorskou van wat aanhangers in die toekoms van hierdie talentvolle man kan verwag en is die perfekte manier om hierdie nuwe fase van sy lewe mee af te skop.