FOTO: Verskaf
Die gewilde musiekduo, GnT, is bekend vir hulle lekker kuiermusiek en energieke optredes. Hulle splinternuwe enkelsnit, Man op die maan, bou voort op die klank en styl waarvoor hulle bekendheid verwerf het en belowe om aanklank te vind by gehore van alle ouderdomme.
Man op die maan gaan oor die onbeantwoorde vrae wanneer iemand eweskielik uit jou lewe uit verdwyn. Hierdie Afrikaanse popsnit, uit die pen van André Jager, het ’n volwasse aanslag en is spesifiek saamgestel om luisteraars dieper te laat dink oor die lewe. “Soms sit en wonder jy hoekom sekere goed gebeur en wat die langtermyn invloed daarvan op jou lewe gaan wees,” verduidelik hulle. “Is daar ooit ’n man op die maan en het hy die antwoorde op al jou vrae?”
Volgens die GnT, wat bestaan uit Eugene ‘Gino’ Prinsloo en Thys Beukes, is hierdie snit reeds ’n treffer by lewendige optredes en het dit ’n baie lekker koorgedeelte waarvan almal gaan hou.
Die musiekvideo se boodskap is dat elke donker wolk wel ’n silwer randjie het. Dit is deur Martin Kotze, van Die Swart Kat Produksies, verfilm op ’n wildsplaas naby Kimberley. “Dit gaan oor ’n klein dogtertjie wat haar pa verloor. Later, wanneer sy groot is, dink sy terug daaroor maar voel nogsteeds sy teenwoordigheid,” vertel hulle. “Die idee is deur Gino se vrou, ook ’n begaafde musikant, geskep. Ons weet nie altyd hoekom dinge gebeur nie, maar ons het vir altyd die herinneringe daarvan.”
Kyk die musiekvideo hier:
Man op die maan is die groep se eerste enkelsnitvrystelling vanaf hulle tweede ateljee-album wat volgende jaar beskikbaar gaan wees. Hulle eerste album, Kuier Saam, is baie goed ontvang en het verskeie suksesvolle treffers, soos Jy’s Beautiful, opgelewer wat bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het. Die album het ook benoemings vir Ghoema- en Aitsa-toekennings ontvang. Drie van die duo se musiekvideos is ook tans op die kassie te sien.
Oor die afgelope paar jaar, het hulle ook die voorreg gehad om die verhoog met verskeie groot name, waaronder Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Snotkop, Elandré, Dewald Wasserfall, Wicus van der Merwe, Jo Black, Jakkie Louw, Valiant Swart, Die Campbells en Fatman. Hulle het ook optredes gedoen by van die land se gewildste musiekfeeste en was deel van die Droogtehulp vir Boere-inisiatief.
Gino en Thys kom albei van Kimberley af en het een aand in ’n kuierplek ontmoet waar Thys opgetree en Gino klank gedoen het. Hulle het onmiddellik gekliek en gespot dat hulle dalk iets moet saamdoen en so is die idee vir GnT gebore. Beide van hulle put inspirasie uit kunstenaars wat hard moes werk om sukses te behaal en het groot bewondering vir musikante soos Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Bruce Springsteen, Neil Diamond, CCR, Depeche Mode, Erasure, Spoegwolf en Elandré.
Wanneer hulle nie op die verhoog is nie, is hulle elkeen ook suksesvolle besigheidsmanne in eie reg. Thys het ’n nasionale eiendomsmaatskappy en Gino het sy eie ateljee en venue wat lewendige vermaak bied.
GnT het nog baie planne vir die toekoms, waaronder ’n landswye toer en verhoogproduksies soos ’n Bob Dylan Tribute Show, Ouma se Spens saam met Shaleen Surtie-Richards, A night with Smokie, The Story of Queen en ’n nuwe produksie genaamd The History of Rock and Roll. Met Man op die maan bewys dié musiekgroep weereens dat hulle stemme en musiekstyl mekaar perfek aanvul – net soos ’n lekker gin en tonic – en gee hulle vir gehore ’n voorsmakie van wat hulle vir die toekoms beplan.