Eet Kreef-produksie op Kerkorrel se verjaardag in Atterbury Teater

FOTO: Stefan Hunter

Eet Kreef! deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band word vereer in hierdie herinterpretasie van die satiriese musikale meesterstuk wat 30 jaar gelede die land omtrent aan die gons gehad het. Die musiekproduksie is onlangs ook vereer met ’n kykNET Fiësta vir beste musiekgedrewe produksie – podium.

Laudo Liebenberg (aKING) span saam met van die hotste rockers in die bedryf vandag om agter die stuur van hierdie Alternatief-Afrikaanse osssewa in te skuif. Die groeplede wat saam met Liebenberg op die album speel is Frank Freeman (kitaar en sang), Sheldon Yoko (dromme), Schalk van der Merwe (baskitaar), Mikhaela Kruger (klawerbord en sang) en Nicole Mitchell (agtergrondsang).

LEES OOK: Laudo, Frank, Schalk en kie herleef Eet Kreef!

Frank Freeman verduidelik hoe die idee van die Eet Kreef Herleef! optredes en opname van die album onstaan het: “Ek het onlangs weer Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe relevant dit nou nog klink. Ek wou die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur in ’n nuwe produksie sit en in ’n manier die verlede en die hede bymekaar bring.

Hoe meer shows ons gedoen het, het ek gesien hoe emosioneel mense geheg is aan die musiek. Dit het my laat besef ons is besig met iets meer as net ‘ons herinterpretasie van die musiek’. Ons is besig om ’n bookskap van 30 jaar terug weer af te lewer in ’n ander tyd en ’n ander konteks, maar dis nog net so relevant soos dit destyds was. Die live shows word nie elke keer 100% dieselfde gespeel nie omdat ons as musikante mekaar so goed ken en ruimte gee op die verhoog. Vir ’n voorsmakie luister wel na ons Eet Kreef!-album.”

Jannie Hanepoot van Tonder, van die Gereformeerde Blues Band het na die album geluister en laat weet: “Dis uitstekende renditions, almal top musikante wat great performances lewer. Wat vir my uitstaan terwyl ek luister na ‘jong’ mense wat die songs speel, is hoe tydloos meeste van hierdie songs eintlik is. Wanneer ons dit speel word ons teruggevoer na daai complicated dae in die 80’s, so ons vergeet maklik die universele relevansie van Ralph se amazing woorde.”

Die Eet Kreef Herleef! live show word op 27 Maart by die Atterbury Teater in Pretoria aangebied om 20:00. Kaartjies kos R220 en kan hier gekoop word.  

Freeman het onlangs opgemerk dat dit Johannes Kerkorrel se verjaarsdag is op 27 Maart. “Dis nogal cool!” vertel hy. “Ek het dit nie geweet toe ons die show gebook het nie. Die feit dat die Atterbury show op Kerkorrel se verjaarsdag is, gee aan hierdie show ’n spesiale gevoel. Toevallighede is mos nooit regtig toevallig nie.”

Die Eet Kreef! -produksie maak ook ’n draai op vanjaar se Toyota US Woordfees op 15 Maart en by die KKNK op 24 en 25 Maart.