Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Chanté reik debuut-enkelnit en musiekvideo uit

FOTO: Verskaf

Dit vat ’n spesiale kombinasie van talent en uithouvermoë om uit te staan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en gelukkig het die opkomende ster, Chanté, genoeg van beide om vir haar ’n blink musiektoekoms te verseker.

Hierdie veelsydige musikant se eerste enkelsnit, Tragedie, is pas vrygestel en gaan binnekort ’n gunsteling wees op elke radiostasie. 

Tragedie lê Chanté na aan die hart – nie net omdat dit haar eerste vrystelling is nie, maar ook omdat dit geïnspireer is deur ’n baie seer tydperk in haar eie lewe. Dit is geskryf deur Carlé Weber en Minke Brits en gaan oor die gevoelens wat jy ervaar wanneer jy deur ’n liefdesteleurstelling gaan. “Hierdie liedjie is geskep na my eie liefdesteleurstelling, so dit is eerlik en vol rou emosie. Tragedie gaan oor hoe jy weer moet opstaan nadat jy in ’n diep donker gat was en tree-vir-tree vorentoe moet beweeg,” verduidelik sy. “Hierdie liedjie is vir almal met ’n stukkende hart en ek hoop dit gee vir luisteraars die nodige krag om te kan aanbeweeg.”

Chanté glo ook dat dié popsnit by ’n wye gehoor gaan aanklank vind. “Ek voel dat ons almal al een of ander tyd in ons lewe ’n liefdesteleurstelling gehad het en nie geweet het hoe om dit te hanteer nie. Tragedie se boodskap is dat jy altyd weer kan opstaan, ongeag van hoe hard jy geval het.”

Die enkelsnit word verder ook gekomplementeer deur ’n musiekvideo wat deur Brits Film Productions, verfilm is. “Die idee was om ’n paartjie, wat deur myself en Llewellyn Steenkamp gespeel word, se goeie en slegte tye uit te beeld. ’n Verhouding is nie altyd maanskyn en rose nie en die lewe is nie ’n sprokie nie,” verklap die sangeres. “Ons het die eensaamheid uitgebeeld en gewys hoe dit omgeswaai kon word in krag en geluk.”

Kyk die musiekvideo hier: 

Dit is in ’n huis op Candlewoods Estate geskiet. “Wat dit uniek maak, is dat jy die emosie kan voel, juis omdat ek my eie ervaring deel,” sê Chanté. “Liefde maak seer, maar dit maak jou ook sterker.”

Volgens dié veelsydige ster, was dit vir haar ’n groot hoogtepunt om haar eie tak van Studio Cha-musiekskool te open in Centurion, waar sy voltyds musiekopleiding gee. “Ek geniet elke oomblik daarvan om ander se talente te ontwikkel en hulle as kunstenaars te sien groei,” sê sy. “Die vrystelling van my enkelsnit is beslis nog ’n hoogtepunt en voorreg.”

Musiek is al Chanté se grootste passie vandat sy kan onthou en haar ouers kon haar nooit van die verhoog af hou nie. Sy sing al sedert sy ses jaar oud is en het deur die loop van haar skoolloopbaan aan verskeie kompetisies en konserte deelgeneem.

Na skool het sy as stemafrigter begin werk by Studio Cha en was sy ook deel van verskeie Rockwood-produksies wat gelei het tot verskeie vertonings regoor die land.

Country-musiek word uitgesonder as haar gunsteling genre en sy het groot bewondering vir kunstenaars soos Carrie Underwood en Kelsea Ballerini. Sy sou ook nog graag eendag saam met Riana Nel wou werk as sy die geleentheid kry. “Ek hou van musiek wat eerlik is en wat ’n storie vertel. Riana se musiek praat met ’n mens se hart,” sê sy.

Die kunstenaar het nog baie opwindende planne vir die toekoms, wat baie nuwe musiek insluit. Sy het ook onlangs haar eie besigheid begin wat spesialiseer in dekor- en blomstilering vir troues waaraan sy hard werk.  

Chanté wil graag hê dat haar musiek nog oor twintig jaar op almal se lippe moet wees. Met die vrystelling van Tragedie, is sy beslis ’n stappie nader aan hierdie droom. Die liedjie is treffend, maar tog ook eenvoudig, en getuig van die hart en siel wat sy daarin gestort het om dit te skep. As dit enige aanduiding is van wat sy vir die toekoms beplan, gaan die pad vorentoe vir haar groot sukses inhou.