Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Ramey Short ewe tuis agter die mikrofoon

FOTO: Verskaf

Ramey Short is geen vreemdeling op die vermaaklikheids-toneel. Hy vertolk immers sedert 2009 die rol van Dr Quinton Meyer in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders. Deesdae sal jy hom ook agter ’n mikrofoon op ’n verhoog vind – want hy’s besig om ’n musiekloopbaan uit te kerf vir homself.

“Toe ek terug getrek het Kaap toe einde 2014 het ek ’n stemafrigter genader. Ek het begin covers opneem en in 2016 is my eerste liedjie geskryf,” vertel die sanger en akteur.

Volgens Ramey was die droom om te sing, van skool reeds by hom. Toneelspeel het eers in 2008 posgevat, maar hy glo dat musiek hom ’n nuwe platform bied om ’n groter impak in mense se lewens te maak.

In 2019 het hy sy eerste paar enkelsnitte vrygestel, waaronder die treffer Môre kom die son weer op – ’n enkelsnit wat gereeld speeltyd op verskeie radiostasies gekry het. Dié enkelsnitte is vroeër in Januarie opgevolg met ’n volledige album. 

“As persoon is ek baie positief, so ek glo altyd dat dit wat ek aanpak ’n sukses sal wees. Ek het so ’n paar mense wie ek baie vertou gekry om my musiek te luister en ek het goeie terugvoer ontvang. Ek het dus geweet dat die enkelsnitte net so goed ontvang sou word.”

Pols mens vir Ramey oor watter liedjie sy gunsteling is, antwoord hy: “Ek kry die vraag gereeld op sosiale media. Om eerlik te wees, is daar nie een wat my gunsteling is nie. Ek glo almal is strek liedjies wat op verskillende maniere met mense gaan ‘praat’. Dit hang af in watter ‘space’ jy is.”

Ramey vertel dat mense gereeld opsoek is na iets groter, iets om aan vas te hou. En met sy musiek wil hy graag wys dat daar hoop is en hul aanspoor om hul drome na te jaag.

“Die rede hoekom die album so lank gevat het, was omdat ek nie enige musiekvervaardigers geken het nie en daar’s spesifieke klanke wat ek in my kop gehad het t.o.v my musiek, so daar was baie trials & errors met verskeie vervaardigers. Op die einde het ek by Rian Swanepoel en Ferdinand Skead uitgekom en ek kan nie gelukkiger oor my besluit wees nie want hulle het my musiek vervaardig.”

Ramey vertel om balans te vind tussen musiek maak en toneelspeel kan soms veeleisend wees. “Ek werk Maandae tot Vrydae van 7:00 tot so 18:00. So ek moet my woorde ook nog leer as ek in die aande by die huis is vir die volgende dag. Ek moes op rustiger dae na ure (aande) deur ry van Johannesburg na Pretoria om my liedjies op te neem.”

Enige toekomsplanne? “Ek het baie drome wat ek nog wil berreik, ek glo ’n mens se lewe werk in seisoene, daar’s tye waar ek sekere goed sal aanpak en soos die seisoen draai dan doen ek weer iets anders, maar musiek was nog altyd ’n baie groot deel van my lewe.”