Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

SA’s Spectacular Diva Show: Vyf van SA se top vroulike kunstenaars op één verhoog!

FOTO: Verskaf

Die geleentheids-ghoeroes van Entertainment & Events Factory bring in 2020 ’n hele paar musiekproduksies na die planke en die SA’s Spectacular Diva Show is een daarvan. 

Demi Lee Moore, Corlea, Liezel Pieters, Monique Steyn en Nádine is die ‘divas’ wat tydens dié spoggeleentheid sal optree. 

Volgens Rex van Deventer, die uitvoerdende hoof van EE Factory, het hy al twee jaar terug die idee om hierdie kunstenaars byeen te bring vir ’n konsert gehad. “Ek het hulle genader om te hoor of hul belangstel in die konsep en almal was baie inskiklik met hierdie voorstel. Dit is wel ’n uitdaging omdat hierdie dames, wat ek as die top-5 vroulike kunstenaars in die land beskou, se stemme te kombineer juis omdat almal so uiteenlopend is. Hulle het uiters goeie talent en hierdie kombinasie gaan beplanning verg, maar dit word so gedoen dat die uitdaging net ’n absolute plesier raak,” het Rex gesê.

Die beplanning vir die Diva Show het ’n paar maande geneem en daar word steeds daaraan geskaaf. Almal se skedules moet ooreenstem en aangepas word sodat hulle bymekaar kan uitkom. Daarom raak hierdie tipe proses soms ’n langdurige een teneinde alles perfek uitgewerk te kry. 

Die President Kruger Kinderhuis vorm ook deel van die konsertreeks en gaan by almal teenwoordig wees. Ongeveer 70% van die fondse wat ingesamel word, gaan aan die kinderhuis geskenk word. 

“Ek is opgewonde om hierdie massiewe sterk konsep vir Suid-Afrika aan te bied, veral ook met die soeklig op vrouebemagtiging. Ek dink die waarde van hierdie vyf dames gaan dit ’n suksesvolle produksie maak om te onthou,” het Rex gesê.

Corlea sê dat duette ’n baie groter uitdaging is as net solo-sang. “’n Mens moet mekaar kan aanvul en nie net bo-oor mekaar sing soos wat jy met ’n solo-vertoning sal doen nie. ’n Mens moet luister na mekaar en dit probeer vertolk dat mense dit kan voel. Wanneer jy daarin slaag en alles bymekaar kom, is dit absoluut ongelooflik,” verduidelik Corlea.

“Ons het almal groot geword met dieselfde musiek en styl en ons doen ballades, so dit gaan interessant wees om die balans te vind tussen ons vyf, maar wanneer ons dit regkry, is dit ongelooflik. Ek het so baie respek vir die meisies, almal het iets totaal uniek wat hulle na die tafel toe bring. Ek kan nie wag om te sien hoe die mense dit gaan ervaar wanneer die vyf van ons saam op die verhoog is nie. Ek dink dit gaan werklik iets wees om te aanskou en ek is bitter opgewonde daaroor!”

Demi Lee Moore sê dis vir haar heerlik om saam met ander kunstenaars op te tree. “Ek dink ons elkeen ken ons stemme en weet waar ons sterkpunte lê en dit maak dit makliker om saam te werk. Die konsep om vyf sterk en unieke vrouens bymekaar te kry is uniek  en bied iets anders, wat die groot trekpleister vir my is.” 

As gevolg van Demi Lee se besige skedule, sal sy slegs kan deelneem aan die Pretoria- en Potchefstroom-konserte op 31 Januarie en 14 Maart. 

“Dit is ’n wonderlike geleentheid om deel te wees van die produksie, my passie is om te sing en op die verhoog te wees. Om ’n verhoog te deel met sulke ongelooflike kunstenaars, gaan net ’n plesier wees,” vertel Liezel Pieters

Liezel sê sy geniet dit om verskilende stemme/harmonië te sing saam met ander kunstenaars en weet dit gaan ’n verrykende ervaring saam met die span wees.

Nadine sê hoe ’n mens se stemme by mekaar aansluit is absoluut hoe ’n mens voel in daardie oomblik en dikwels uit ervaring. Dis wanneer alles in die regte rigting gaan en jy ’n duet doen en saam met ’n paar sangers sing en kan sien wanneer almal in dieselfde moment is. Dis iets wat mens nie regtig kan beskryf nie, dis soos om aflos te hardloop en jy gee die stokkie aan vir iemand anders – elkeen is ’n atleet op sy eie en het sy eie reg en uiteindelik is die doelwit vir almal dieselfde.

’n Groot aangekondiging is ook onlangs gemaak. Bianca du Preez (Bibi) sal ook deel van die Diva Spectacular wees. Bibi sal optree as seremoniemeester en self vir een of twee ander verrassings sorg.

HIER’S DIE BELANGRIKE DATUMS:

31 Januarie 2020

Monte De Dios, Pretoria 

14 Maart 2020 

SnowFlake, Potchefstroom

28 Maart 2020

Communio Ouditorium, Nelspruit

23 Augustus 2020

Sun Arena, Pretoria

Planne vir Kaapstad in 2020 is ook reeds op die tafel. Kaartjies vir 31 Januarie, 14 Maart en 28 Maart is reeds aanlyn beskikbaar by ticketpro.co.za.

Die groot konserte in Pretoria en Kaapstad sal voortaan ook jaarlikse instellings wees en ander vroulike kunstenaars sal jaarliks as gaskunstenaars genooi word om deel te neem.