Oud en nuut verweef op ‘Vollebors in Afrikaans’-konsert

FOTO: Verskaf

Vollebors in Afrikaans is ’n splinternuwe musiekproduksie, wat aangebied word deur Vonk Musiek en EE Factory Entertainment & Events. Dié tsunami van musikale talent vind plaas op Saterdag, 23 Mei 2020 by die Sun Arena by Time Square Casino in Pretoria. 

“Dit gaan ’n tsunami van Afrikaanse talent op een verhoog wees met meer as dertig kunstenaars wat hul beste werke in ’n musiek gedrewe musikale opvoering gaan lewer. Dit opsig self is genoeg om hoendervleis oomblikke te beloof.  Maak jou reg vir ’n legendariese musiekreis van oorspronklike Afrikaanse musiek, huidige, sowel as nostalgiese treffers – alles op een verhoog,” het Rex van Deventer, uitvoerende hoof van EE Factory Entertainment & Events gesê.

Volle bors in Afrikaans beloof om ’n belewenis van oorspronklike Afrikaanse musiek, opgevoer deur die oorspronklike kunstenaars te wees. Daar wag ook optredes deur nuwe kunstenaars met nuwe treffers. 

Hierdie geleentheid sal die gehoor ook terug neem in tyd en vir ’n oomblik die horlosie stil laat staan terwyl nuwe herinneringe gekweek word met nuwe treffers. Talle optredes sal deur talentvolle plaaslike kunstenaars op internasionale vlak gelewer word, wie se bekers oorloop van musikale talente. Baie van die sangers is kunstenaars in murg en been en word die blootstelling gegun om dít  juis ten toon te stel. Meeste van die kunstenaars is liedjieskrywers en sangers, sommige is ook bedrewe digters en ander kan selfs toor met ’n verfkwas. 

Met Vonk Musiek en EE Factory Entertainment & Events kry dié oorspronklike musikale produksie vlerke en beloof dit om ’n uitstekende produksie te wees. Met Vollebors in Afrikaans kry ware Afrikaanse kunstenaars die erkende blootstelling en word die behoefte aan nostalgie, kuns, liedjieskrywers en sangers in ’n musikaal gedrewe produksie vervat. Dié leemte in die mark is deur ’n behoeftebepaling vasgestel en die vervaardigers hoop om die behoefte aan kunste in ons land met dié produksie te vul.

Vollebors in Afrikaans gaan ou treffers soos rou diamante blinkvryf en dit gaan soos ouds gesing word deur die oorspronklike kunstenaars. Sangers en liedjieskrywers wat die musikale landskap van Afrikaanse musiek verander het. Dink maar aan sangers wat ’n groot impak op die musiekfront gemaak het en steeds doen. 

Anton Goosen is een van die gaste en met 19 liedjies in die FAK-sangbundel gaan hy self die oorspronklike nommers sing. Anton en Sonja Heroldt het vir die eerste keer in baie jare saamgesing by die US Woordfees ’n paar maande gelede. Wees verseker dat dié twee geliefde Afrikaanse sangers vir ’n verrassing gaan sorg wanneer hulle weereens saam op die verhoog is. 

Richard van der Westhuizen en Gerhard Steyn gaan Tussen treine doen en jou terugneem na jare gelede. Terwyl Gian Groen sy immergewilde, oorspronklike Vier Seisoene Kind, gaan sing. Dié treffer sal sekerlik een van vele hoogtepunte wees, van Vollebors in Afrikaans en ’n danksegging aan ondersteuners wat dié lied die mees gedekte lied in Afrikaans gemaak het.

Verskeie keurspelle en duette gaan ook plaasvind tussen kunstenaars wat saam werke uitvoer en natuurlik soos met enige konsert, wag daar beslis ’n paar heerlike verrassings op konsertgangers.

Kunstenaars wat optree by Vollebors in Afrikaans sluit in Juan Boucher, Jan Blohm, Gerhard Steyn, Herman Kleynhans, Dozi, Refentse, Tarryn Lamb, Gian Groen, Steffie le Roux, Wynand en Chereé, Jakkie Louw, Anton Goosen, Sonja Heroldt, Richard van der Westhuizen, Pietman Geldenhuys, Rina Hugo, Ramey Short, Jan Rhaap, Ray Dylan, Beeskraal, Stef Kruger, Les Javan en vele meer. 

“Kom bederf jouself met ’n heerlike musikale aandjie uit met melodieë van toeka wat nuut afgestof gaan word. Dit is ook ’n geleentheid waar nuwe kunstenaars met hul treffers uitgestal word, so wees seker dat daar ’n hele paar verrassings op konsertgangers wag. Moet beslis nie hierdie uitstekende-waarde-vir-geld-produksie misloop nie,” het Kobie Koen, uitvoerende hoof van Vonk Musiek, gesê.

Kaartjies vir Vollebors in Afrikaans is nóú op iTickets beskikbaar.