Touch of Class se ode aan soldate bring vertroosting

FOTO: Verskaf

Touch of Class se nuwe enkelsnit, Stille Soldate, skop met ’n eerlike realiteit af as Dusty Dixon vra of hulle vergete is. Die “hulle” na wie hy verwys is die manne wat hul lewens op die grens verloor het – dié wat baklei het sodat elkeen van ons vandag die mooi land van Suid-Afrika ons tuiste kan noem.

Stille Soldate, ook die titelsnit van dié duo se nuwe album, is ’n treffende ode aan almal wat op die grens gesneuwel het. Dit neem jou op ’n nostalgiese reis terug na die tyd toe 18-jarige jong seuns hartverskeurend deur geliefdes gegroet is om hul plig op die grens na te kom.

“Ek was by die Voortrekkermonument en terwyl ek gekyk het na al die mense se name op die gedenkmuur, het ek net gedink hoe tragies dit is dat ons nie eers van almal weet nie en dat daar ook van hulle vergeet word,” het Dusty vertel.

Dié liedjie is uit sy pen en die groep word oorval met boodskappe van diegene wat agtergebly het en ook dié wat saam op daardie grens was maar die tragedie oorleef het. In van dié boodskappe word Touch of Class bedank vir die genesing en eer wat hulle deur hul liedjie bring.

“Dit maak nie saak hoe ons terugdink daaraan nie, oorlog was ’n werklikheid en soveel mense is daardeur beïnvloed – van die seuns wat gegroet is tot diegene wat moes agterbly en die seuns groet,” het Deon van der Merwe, kitaarspeler van Touch of Class, vertel.

“Met dié lied vertel ons nie net die storie nie, ons gee erkenning aan almal wat geraak is,” het Dusty bygevoeg.

Die musiekvideo vir Stille Soldate kan op YouTube geniet word die gedenkmuur kan ook gesien word.

Kyk die musiekvideo hier: 

Dusty is die nuwe lid van Touch of Class en sal saam met Deon nog vele aanhangers bekoor met hul sielvolle musiek en in-die-kol vertolkings van ou gunstelinge.

Hul album, Stille Soldate, is die eerste album saam as duetpaar en bevat twintig snitte. Dié album sal op Vrydag, 6 Desember landwyd by vooraanstaande musiekwinkels beskikbaar wees.

Die titelsnit, Stille Soldate, is ook op die versamelalbum, Afrikaans is Groot. Vol. 12, ingesluit. Stille Soldate kan ook digitaal op musiekplatforms afgelaai of gestroom word.