FOTO: Verskaf
Met haar splinternuwe enkelsnit, Sterker, bemagtig topverkoper sangeres en liedjieskrywer, Riana Nel, elkeen wat na dié liedjie luister om ook self die groeiproses aan te pak. Dié titelsnit van haar album, Sterker, sal ook die temalied van Huisgenoot en kykNET se nuwe fliek, Vergeet My Nie, wat vanaf 14 Februarie 2020 in rolprentteaters begin draai, wees.
Volgens Riana moet mens deurlopend aan jouself werk en situasies in die lewe verwerk om te vorm tot die beste jý wat bedoel was.
“Dié liedjie lê my baie na aan die hart want ons moet almal deur fases in ons lewens gaan om sterker aan die ander kant uit te kom,” het sy gesê.
“Ek moes ook sterker word vir die uitdagings wat die lewe my bied en moes met tye diep in myself gaan rondkrap het vir die vertroue in dit wat ek doen,” het sy vertel. “Ons almal word met tye tenagekom en ons moet leer om te vergewe. Dit is juis dié proses wat jou sterker maak vir die lewe,” verduidelik sy.
Riana het twee jaar lank aan die album Sterker gewerk en die resultaat was bykans tagtig liedjies wat sy geskryf het waarvan twaalf op die album ingesluit is. Twee duette, Alles is Niks, saam met Francois van Coke, en Moenie, saam met Ruhan du Toit, is ’n groot bederf op dié album.
In ’n tydperk waar die lewe vol uitdagings is, bied Riana se liedjies soos Sterker op dié nuwe album hoop en ’n boodskap van liefde.
Sterker is ’n móét vir elkeen se versameling om selfondersoek te doen en ook, soos Riana, sterker te word.
Dié album het enkele weke na vrystelling sterk op ranglyste gestaan en ’n goue toekenning vir verkope ontvang.
Hier is ’n video van Riana terwyl sy geluister het na die opname van haar enkelsnit Sterker in Coleske Artists se ateljee:
Sterker is by alle vooraanstaande musiekhandelaars beskikbaar wees. Dié album kan ook digitaal op musiekplatforms afgelaai of gestroom word.