FOTO: Verskaf
Eet Kreef! deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band word vereer in hierdie herinterpretasie van dié satiriese musikale meesterstuk wat 30 jaar gelede die land omtrent aan die gons gehad het.
Eet Kreef! was in 1989 ’n groot sukses, ten spyte daarvan dat die liedjies vir radio verban was deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie.
Laudo Liebenberg (aKING) span saam met van die hotste rockers in die bedryf vandag om agter die stuur van hierdie alternatief-Afrikaanse osssewa in te skuif. Die groeplede wat saam met Liebenberg op die album speel is Frank Freeman – kitaar en sang, Sheldon Yoko – dromme, Schalk van der Merwe – baskitaar, Etienne van Rooyen – klawerbord en Nicole Mitchell – agtergrondsang.
Frank Freeman verduidelik hoe die idee van die moderne opname van die album onstaan het: “Ek het onlangs weer Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe relevant dit nou nog klink. Dit was iets uniek in Afrikaanse musiek ten tyde van uitreiking en dit staan vandag steeds sterk. Die oorspronklike idee agter die projek was gebasseer op die musiek alleen. Ek wou die geskiedenis van alternatiewe-Afrikaanse musiek en kultuur in ’n nuwe produksie sit en in ’n manier die verlede en die hede bymekaar bring. Aan die een kant wou ek mense herhinner dat daar ’n ryk geskiedenis is van alternatiewe-Afrikaanse musiek en aan die ander kant dat daar ’n toekoms daarvoor is.”
“Hoe meer shows ons gedoen het, het ek gesien hoe emosioneel mense geheg is aan die musiek. Dit het my laat besef ons is besig met iets meer as net ‘ons herinterpretasie van die musiek’. Ons is besig om ’n bookskap van 30 jaar terug weer af te lewer in ’n ander tyd en ’n ander konteks, maar dis nog net so relevant soos dit destyds was.”
“Toe die geleentheid gekom het om ’n album van die projek te maak was die manier waarop ons dit opneem vir my belangrik. Dis moes live opgeneem word met almal wat in ’n kamer saam speel. Net soos die shows. Dis presies wat ons gedoen het. Ons het alles opgeneem in 3 dae en ek is trots op die eindproduk. Wat jy hoor is ons wat speel en sweet in ’n kamer. Eerlik en sonder te veel afronding,” brei Frank uit.
Liebenberg, nadat hy gevra was hoe hy voel om in iemand soos Kerkorrel se skoene te staan, het verduidelik: “Ek dink dit is ’n groot uitdaging om ’n album soos die op te neem omdat dit so uniek is en baie na aan mense se harte is. Ons het van die begin af geweet dat dit ’n verwerking moet wees en nie ’n ‘tribute show’ nie. Sit jou eie stempel op, wees eerlik en respekvol teenoor die ‘song’ is my mantra vir hierdie album en vertonings.”
Jannie Hanepoot van Tonder, van die Gereformeerde Blues Band het na die album geluister en laat weet: “Dis uitstekende renditions, almal top musikante wat great performances lewer. Ek hou meeste van die songs wat julle jul eie gemaak het, bv. Ry is baie cool, dalk beter as die original. Hierdie siniese ou ballie se enigste kritiek is dit is soms bietjie te goed, ek mis die angst.
Wat vir my uitstaan terwyl ek luister na ‘jong’ mense wat die songs speel, is hoe tydloos meeste van hierdie songs eintlik is. Wanneer ons dit speel word ons teruggevoer na daai complicated dae in die 80’s, so ons vergeet maklik die universele relevansie van Ralph se amazing woorde.”
Luister na die album hier op Apple Music:
Die Eet Kreef Herleef! live shows wat deur dieselde groep musikante aangebied word, het vroeër vanjaar by die Vrystaatse Kunstefees in Julie afgeskop. Dit word op 18 Desember by Evita se Perron in Darling aangebied. In 2020 maak Eet Kreef ook ’n draai op die Toyota US Woordfees op 15 Maart en by die Atterbury Teater in Pretoria op 27 en 28 Maart.