Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Kersfees Skouspel vanjaar in Kaapstad en Pretoria te sien

FOTO: Verskaf

Lefra Produksies kondig met trots aan dat vanjaar se Kersfees Skouspel by die Grand Arena van GrandWest in Kaapstad op Saterdag, 14 Desember om 20:00 aangebied word, en daarna terugkeer na die Sun Arena by Time Square in Pretoria op Maandag, 16 Desember om 15:00.  

Meer as 15 top-kunstenaars gaan in hierdie produksie optree en dit gaan ’n wonderlike Kerskonsert wees in die ware Boney M-styl van Kerskonserte. Noot vir Noot se Jaconell Mouton is weer eens die musikale regisseur en Frans Swart, wat bekend is as regisseur van al die skreeunsnaakse klugte soos My Oom se Vrou se Plekkie, weer die plek as algehele-regisseur met ’n volle orkes sal volstaan.  

Kersfees Skouspel spog vanjaar met die room van Suid-Afrikaanse sangers en teatergangers gaan ’n fees van talent sien en hoor, met Alwyn Oberholster, Granville Michaels, Jak de Priester, Joshua Na Die Reën, Mathys Roets, Monique,  Nianell, Pieter Smith, Scott Engelbrecht, Steffie Le Roux en Taschè op die verhoog. Lefra het ook so pas aangekondig dat die wêreldbekende Leo Sayer Suid-Afrika toe kom in Desember om as internasionale gaskunstenaar op te tree in vanjaar se Kersfees Skouspel-konserte.

Die regisseur, Frans Swart sê hy is baie opgewonde oor die sterk span sangers en musikante wat in Kersfees Skouspel gaan optree. “Deur die jare was Kersfees Skouspel nog altyd ’n skouspel van klank, kleur, kostuums, musiek, sang en beslis ’n skouspel van Kersmusiek. Kersfees is so ’n wonderlike tyd met die viering van Jesus se geboorte en dit is so ’n voorreg om hierdie produksie net voor Kersfees aan te bied.  Ons nooi al ons mense uit om Kersfees te kom vier met die wonderlikste kunstenaars en die mooiste Kersmusiek wat nog ooit geskryf is.”

Jaconell Mouton, die musikale regisseur, sê dit is elke jaar vir haar so opwindend om aan Kersfees Skouspel te werk. “Elke jaar het ons nuwe kunstenaars wat ’n totale nuwe dinamika na die produksie toe bring. Kunstenaars sing duette saam, daar is lekker groep liedjies en ek wil nie te veel uitlap nie, maar toeskouers is in vir ’n hele paar verrassings!”

Besprekings kan gedoen word by Computicket op 0861 915 8000 of aanlyn by: www.computicket.com. Groepe van meer as 10 kry ’n lekker afslag – skakel Monica by (011) 815 3000 of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com  Maatskappye kan ook losies vir hulle gaste of personeel koop – skakel Charl by (011) 815 3000 of e-pos aan charl@lefra.com.  

Bespreek onmiddellik by Computicket 0861 915 8000 of www.computicket.com.  Groepe van meer as 10 kry afslag – skakel Monica by (011) 815 3000 of e-pos admin@lefra.com

WEN KAARTJIES NA KERSFEES SKOUSPEL BY GRANDWEST OF TIME SQUARE

Drie lesers kan elkeen ’n dubbelkaartjie wen na Kersfees Skouspel in die Grand Arena by GrandWest op Saterdag, 14 Desember 2019 om 20:00, of by die Sun Arena @ Time Square in Pretoria op Maandag, 16 Desember om 15:00. Om deel te neem aan Afrikaanse Musieknuus en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: LEFRA KERSFEES AFRIKAANSE MUSIEKNUUS, JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP. Dieselfde inligting kan ook per e-pos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & AFRIKAANSE MUSIEKNUUS KERSFEES KOMPETISIE as onderwerp. Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die redakteur is finaal.  SMS’e kos R1,50 elk en gratis SMS’e tel nie.

Kersfees Skouspel word aangebied met die vriendelike samewerking van Renegades Removals, RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren-wyne, Ambassador Executive en WS Pianos.