Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Elvis Blue en Snotkop verras met onverwagse samewerking

FOTO: Verskaf

Wat gebeur wanneer Suid-Afrika se hartedief en SAMA-bekroonde Elvis Blue en die pop-, kletsrym- en sokkiesensasie Snotkop kragte snoer? Jy kry ’n prettige enkelsnit wat nommerpas vir dié somer is… 

Snotkop, wat nooit toelaat om in ’n voorspelbare boks geplaas te word nie, stel ons bekend aan die ligter kant van die diep-siel Elvis Blue met dié aangrypende Langpad alleen pad. Maak gereed vir ’n totale oorwurm wat nie net positiewe vibes gee nie, maar die opgewekte klavier met die sielvolle saksofoon laat trou.

Die musiekvideo vir die liedjie neem as’t ware die toppunt van lekkerkry na nuwe hoogtes. Maak net doodseker jou oë bedrieg jou nie, aangesien die twee sangers as mekaar in die video te sien is. “Dit was super pret om die video te maak,” skerts Snotkop. “Ons het soos wat die ander een gewoonlik lyk aangetrek en die hele dag op die stel gelag van begin tot einde.”

Kyk die skreeusnaakse musiekvideo hier:

Elvis en Snotkop het elkeen hul eie massiewe, maar aparte aanhangers dat die samesmelting van sulke verskillende genres ondenkbaar was tot nou. So presies waar en wanneer het hierdie twee sterre saam gekonkel om ’n sameswering oor hierdie projek te bespreek?

Elvis vertel: “Ek en Snotkop het deur die jare goeie vriende geword deur mekaar by verskillende konserte te sien. Niemand het ooit gedink ons sal saamwerk as gevolg van ons teenoorgestelde style nie – wel, nou het ons hul verkeerd bewys!”

Snotkop erken ook dat hy nog altyd saam met Elvis wou werk,  en verwys na hom as ’n “moderne digter van die hedendaagse tyd”.

Met hierdie nuwe samewerking wat oor en oor herhaal gaan word soos jy jou pad betree na die somer en die feesseisoen, wil jy beslis nie uitmis om beide Elvis Blue én Snotkop op 28 Desember 2019 in lewende lywe te sien optree by die Afrikaans Is Groot Somerfees in Mosselbaai nie.

Langpad alleen pad is omtrent ’n massiewe kontras en ’n half teenoor Elvis Blue se vorige enkelsnit, Beloofde Land, wat ’n roerende, patriotiese ballade is. Albums wat deur dié platinumverkoper en die veel-bekroonde wenner van verskeie SAMA’s, Ghoemas en Bokkie-toekennings beskikbaar is, sluit in Jou Huis, Stories, Die Brug, Optics, Êrens in die Middel van Nêrens, Afrikaans en meer. Hy is die trotse pa van twee dogters en woon tussen George en Johannesburg.

Langpad allen pad is reeds beskikbaar op alle groot digitale musiekplatforms.