Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Ivan Roux se nuwe enkelsnit ‘doenit als vir liefde’

FOTO: Verskaf 

Ivan Roux se nuwe enkelsnit Doenit als vir liefde, wat as een van die eksklusiewe liedjies op die Afrikaans is Groot volume 12 versamelalbum ingesluit is, is een wat dié sanger “ongelooflik opgewonde maak”.

LEES OOK: Die Kontrak se Tasha se eerste enkelsnit is ’n ‘uitsondering’

Dié liedjie uit Gerhard Steyn se pen is ’n treffer waarop ’n mens lekker kan vasdans en net vergeet van als wat om jou aangaan vir daardie paar minute wat die liedjie speel. 

“Ek self kan nie genoeg van die liedjie kry nie en ek is só bevoorreg om nou een van my eie ‘sokkie’-liedjies te hê. Dis sulke feel good liedjie en ek dink dis ook een van daai liedjies waarmee almal kan relate – dis alles wat ons sal doen vir die liefde – die klein simpel goedjies, wat ons almal weet op die einde die groter prentjie skep,” vertel Ivan opgewonde. 

Ivan sê dat die klank van die liedjie getrou aan die wenresep van sy eerste enkelsnit, Daai Ding, voldoen. Daai Ding bevat ook ’n mengsel van sokkie en klub, terwyl Dis Liefde, sy tweede enkelsnit, weer iets heeltemal uit die hart is. “As ek die liedjie moes vergelyk, sal ek sê dis ’n goeie balans tussen Jay en Gerhard Steyn-liedjies met my eie twist.”

Ivan hoop dat die publiek die liedjie goed sal ontvang en verduidelik dat dit beslis die geval sal wees omdat dit beloof om die somertreffer van die jaar te wees. “Ek is seker dit gaan die liedjie wees wat tydens almal se vakansie en naweke gespeel gaan word.” 

Luister hier na ’n voorskou:

’n Musiekvideo vir die warm treffer is ook in die pyplyn… “Ons beplan iets nuuts in Suid-Afrika en gaan ’n tipe ‘selfie’-video maak waar vriende net ’n ongelooflike lekker tyd saam gaan hê en die lewe geniet,” verklap Ivan. 

En wat sal dié sanger vir sal sy getroue ondersteuners wil sê? “Ek wil net vir elke liewe persoon uit my hart uit dankie sê, wat al van die begin af bank vas agter my staan, want sonder hulle was ek nie hier waar ek vandag is nie. En onthou om uit te kyk vir my volgende vertonings, ek kan nie wag om almal daar te sien en te ontmoet na die vertoning nie, dit is altyd vir my die lekkerste,” sluit Ivan af. 

Die Afrikaans is Groot volume 12 versamelalbum is nóú landwyd en digitaal beskikbaar.