Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Manie Jackson se ‘beste en meer’ ’n moet vir jóú versameling

FOTO: Verskaf 

Manie Jackson se vokale vernuf en vermoë om met woorde te toor het oor die jare heen van hom ’n gróót gunsteling op die Suid- Afrikaanse musiektoneel gemaak. Met sy nuutste vrystelling, My beste en meer, lewer hy ’n terugblik op sy mees suksesvolle snitte en verras met kraakvars nuutskeppings wat jou ore sal laat hunker na meer! 

Dié album beslaan 20 snitte – nagenoeg ’n uur en ’n half se ouditiewe bederf – en plaas Manie se uitsonderlike, klassiek- kontemporêre stem in ’n vertoonkas van juwele wat in ’n ryke verskeidenheid uiteenlopende, dog uitstekend komplementerende, kleure pronk. 

Momente van diep, treffende monoloë en solo-instrument word uitstekend afgewissel met dié van vol-orkes, simfonie, stem en agtergrondharmonie. Hierdie twee uiterstes, en die ryke mengsel van klanke tussenin, sorg vir ’n luisterryke ervaring – enige iets van goeie Afrikaanse sokkie met polsende ritmes en techno-invloede, ’n tiksel country, ’n bietjie jodel en ’n ballade of twee, tot meer geestelike werke en selfs ’n wals met ’n knypie Griekeland in sy hart. 

Vir ’n voet wat sy lyf danser wil hou is daar snitte soos Waarom het jy nie nee gesê, Liefde en genade en Julia, ’n lekker jive met Onthou se jodel, twee meevoerende walse, Sê nou en Bring die sterre nader, sowel as effens rustiger snitte soos Onthou my en Palms van my hande wat ruimte maak vir bietjie asem skep. 

Die Hemel weet – ’n immergroen en alombekende gunsteling – maak ook sy verskyning op die album. 

Manie neem ’n oomblik om ’n prag huldeblyk te bring aan legendes van gister wat ons vooruit gegaan het met Ek, Bles en Gé – ’n roerende werk waar ’n volkleurbeeld van groot name in die musiekbedryf in hul Ewige Woning met musiek geskets word. 

Snitte met diepe lewenswysheid, soos Dorings vir Ma en Loop net langs my spore, sowel as geestelike werke soos Engele, Fire within me en ’n pragtig herwerkde weergawe van die Onse Vader – op die wysie van die ou bekende Auld lang syne – is ook op die album ingesluit. 

Die album lewer presies wat dit belowe en soveel meer. Dis die hoogtepunte van alles van Manie Jackson en ’n pronkstuk van musikale diversiteit vir enige musiekversameling! 

Die album is nou landwyd beskikbaar. Vir diegene wat hul musiek digitaal verkies, kan die album hier op Apple Music geluister word: