FOTO: Verskaf
Die Heuwels Fantasties het onlangs hulle nuwe enkelsnit Jy Stel my Teleur uitgereik. Video. Ons gesels met Pierre Greeff oor dié liedjie, die nuwe album wat binnekort verskyn en die jaarlikse Liefde by die Dam:
Ons hou baie van julle nuwe liedjie Jy Stel my Teleur. Vir wie is die lied geskryf?
Dis nogal introspektief en ek dink mens kan ook sê ons het dit soortvan vir mekaar geskryf.
Daar is ’n nuwe album op pad. Hoe verskil dit van julle vorige uitreikings?
Dis uiteenlopend, nes ons vorige albums, die ene voel wel asof hy goed die klank vasvang wat ons live op die verhoog vir ons gehoor wil bring.
LEES OOK: Die Heuwels Fantasties se nuwe enkelsnit ‘stel nie teleur’
Vertel ons meer van die opneem-proses van die album?
Als het begin met ’n week se afskop skryfsessie in Yzerfontein. Dis altyd lekker om bietjie weg te gaan om dinge aan die rol te kry. Daarna is ons soos van ouds met ons ander albums ook na Sunset Studios met heelwat ander vriende en musikante as medewerkers en nou in die peilvlak is ons terug in ons eie ateljee in die Kaap om hom af te rond
Hoe berei julle vir ’n optrede voor. Na soveel jare saam, is dit nog nodig om baie te oefen voor ’n gig?
Ons probeer oefen as ons nuwe materiaal begin speel soos nou met die nuwe enkelsnit wil ons dit onmiddelik na die verhoog neem… andersins speel ons genoeg deur die jaar!
Wat kan aanhangers by Liefde by die Dam in Kaapstad verwag?
Baie ‘colabs’ en ten minste ses musikante op die verhoog! 😉
LEES OOK: Liefde by die Dam kom weer na die Moederstad!
Kan julle nog julle heel eerste gig onthou? Waar was dit en hoe het dit gegaan?
Dit was rof en glad nie afgerond nie by Julie se Baai in Stilbaai saam met die Avontoer in 2008!
Hoe verskil die musiekindustrie nou en 10 jaar gelede?
Wel nou bestaan MK nie meer nie, maar die internet maak dit baie makliker. Toe ons begin het was dit net MySpace, geen ander sosiale media nie.
Wat dink julle moet dieselfde bly en wat moet verander t.o.v Die Heuwels Fantasties?
Ek dink ons beoog steeds om tunes te maak wat ons wil hoor en wat uiting gee aan ons gedagtes. Hopelik is dit nog iets wat ons gehoor in belangstel soos die jare aangaan!
Met wie will julle nog saamwerk? In SA en Internasionaal?
Sal graag saam met AKA iets wil doen hier en Bruce Springsteen internasionaal.
Jy Stel my Teleur is nóú op digitale musiekplatforms beskikbaar.