Geloof, vergifnis, aanvaarding in nuwe Douvoordag-enkelsnit

FOTO: Willem Botha

Die gewilde duo, Douvoordag (Jattie en Ilse de Beer), sing oor geloof, vergifnis en aanvaarding in hulle nuwe enkelsnit wat gedurende die week van 15 Oktober aan radiostasies landwyd uitgereik word.   

LEES OOK: Die Avontuur begin nou vir Douvoordag             

Skrapnel is ’n treffende kontemporêre snit, wat direk met die hart praat en jou aanmoedig om oor die lewe en geloof te dink. Soms voel die avontuur van die lewe meer soos ’n oorlog. Die skrapnel van ongeloof, onvergifnis, bitterheid en blaam bly dan agter binne-in ons,” verduidelik die musikantpaar. “Al hoe ons heel gemaak kan word, is om te kniel, dit oor te gee, en te laat gaan. Dis in die oorgee en laat gaan wat die dorre woestyn in jou mettertyd ’n kleurvolle tuin word.”

Luister na ’n voorskou hier: 

Die enkelsnit vorm deel van hulle debuut-album, Die Avontuur, wat vir die paartjie ses Ghoema-benoemings, insluitend Nuweling van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep/Duo en Beste Alternatiewe Album, besorg het en ook nou vir twee Aitsa Afrikaanse musiektoekennings in die Nuweling van die Jaar– en Kontemporêre Album van die Jaar-kategorieë gesorg het. Die album was ook vroeër die jaar vir ’n SAMA toekenning benoem in die Beste Kontemporêre Album kategorie.

Ilse en Jattie maak al sedert 2008 saam musiek en hulle liedjies soos Desembers, Die Avontuur, Uitsig en Manifes kan gereeld oor radiostasies landwyd gehoor word. Albei kom uit musikale families en was al van jongs af deel van kore en ander musiekgroepe en -produksies.

RESENSIE: Douvoordag – Die Avontuur

Skrapnel is ’n inspirerende liedjie van hoop in ’n baie moeilike tyd in Suid-Afrika. Dit bou voort op die positiewe trant waarvoor Douvoordag bekendheid verwerf het en beloof om nog vir jare lank ’n gehoor-gunsteling te wees.