Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Kurt Darren se nuwe album is vir al die ‘#partytjiediere’

FOTO: Verskaf

Dis geen geheim dat Kurt Darren presies weet wat om in ’n partytjie-album in te meng sodat hy behóórlik skop nie. Met sy nuutste, witwarm vrystelling, #Partytjiedier, wys hy weer eens waarom sy musiek regoor Suid-Afrika elke partytjiedier wakker maak.

Hierdie blinknuwe album beslaan uit 13 snitte – elk met ’n aansteeklike energie wat jou eenvoudig nie sal toelaat om vir ’n oomblik stil te sit om asem te skep.

Die polsende baslyne en ritmes wat jou hele binneste – en die lyf wat daaraan vas is – roer, tesame met sterk tegnogeure, elektriese ondertone, slim verweef met solo-instrumente en selfs ’n tikkie simfonie, sorg reeds vir iets met tonne partytjie-oemf. Kombineer dít met liriek, stem en seepgladde harmonie en jy kry iets wat ranglyste aan die brand gaan sing en dansvloere oral stampvol gaan hou!

Klein Saterdag, die eerste enkelsnit vanaf die album, maak dit sommer so met die intrapslag duidelik dat énige dag partytjiedag is en dat daar nooit ’n verskoning goed genoeg is om jou dansskoene by die huis te los nie.

Hierdie tema word dwarsdeur die album – selfs in die ietwat meer getemde snitte soos Gelukkigste man op aarde en vinniger tempo, tong-in-die kies liedjies soos Somerlyf verder gevoer, waar niks anders bestaan behalwe die een wat jou oog en hart gevang het, die musiek en die dansvloer nie.

Ander snitte soos Heel aand lank, Tydbom, Oh my soul, Roekeloos, Halleluja soen en Laat die dansvloer brand behoort vir enigiemand wat daarna luister te sê dat hierdie album sy titelsnit gestand doen: die partytjiedier is los en niemand maak hom stil!

Luister die album hier op Apple Music: