FOTO: Verskaf
Julanie J se splinternuwe enkelsnit Sandkastele is pas uitgereik. Dit is haar tweede liedjie wat in 2019 in samewerking met Warner Music South Africa opgeneem en vrygestel is. Ons gesels met haar oor haar hoogte-en laagtepunte en planne vir die res van de jaar:
Hoe was 2019 sover vir jou?
2019 is sover een van my bestes! Om aan ’n album te werk en musiek te maak was nog altyd my droom, so om dit te kan doen maak my opgewonde en dankbaar! ’n Laagtepunt vir my, is dat 2019 sover ’n swaar jaar vir die vroue van Suid-Afrika is. Met alles binne my glo en hoop ek dit sal verander as ons bly saamstaan. Met so baie brawe stemme (manlik ook) glo ek ons maak ’n impak en bring verandering.
Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Ek is opgewonde om weer studio toe te gaan om verder aan my nuwe Afrikaanse-album te werk. Ek bars omtrent uit my nate met nuwe idees, konsepte en nuwe liedjies.
Wat motiveer jou om liedjies te skryf?
Ek dink nie ek sal dit ooit in een woord kan beskryf nie. Verskeie situasies en mense inspireer my. Ek probeer altyd oplettend bly sodat ek nie die klein goedjies mis en ’n geleentheid verby my laat gaan om iets te skep wat toekomstig vir iemand iets kan beteken.
Waaroor gaan die nuwe enkelsit Sandkastele?
Die liedjie gaan daaroor dat ons mekaar elke dag moet waardeer. My fondasies was in 2018 geskud. Dit wat ek geglo het was honderd maal getoets einde laasjaar toe ek met ’n skok besef net hoe vinnig ons tyd hier op aarde is. Dis ’n eer om iemand te kan liefhê en nog meer as hul jou ook lief het. Tyd loop vinnig en ons vergeet soms wat werklik saak maak.
Wat lê jou tans na aan die hart?
Baie van ons mense voel daagliks mismoedig oor ons land, huis omstandigede of selfs in hulself. Ek probeer dus altyd kyk hoe ek met my klein lewe ’n verskil kan maak, al is dit net vir ’n oomblik om iemand hoop te gee.
Vertel ons iets van Julanie J wat niemand weet nie?
Ek het hoogtevrees dus vermy ek altyd Menlyn en Sandton City want ek kan nie die glas roltrap hanteer nie. Dis ’n droom om eendag vreesloos te lewe… Ek glo dis moontlik!
Wat is die beste raad wat iemand jou gegee het?
“If it’s meant to be it will be.” Dit spreek boekdele vir my.
Watter ander Suid-Afrikaanse musikante kyk jy op na en hoekom?
Daar is so baie, maar wyle Johnny Clegg staan vir my uit. Hy was vervolg vir die dinge waarvoor hy gestaan het. Johnny kon maklik eerder sy loopbaan beskerm het, maar hy het gekies om nie net ’n verskil te maak nie, maar ook te wees.
Luister na ’n voorskou hier: