Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Kontras beloof om opinies en denke met musiek te verander

FOTO: Verskaf

Wat gebeur wanneer vier volbloed-Afrikaanse jongmanne ’n egte bond voel met Suid-Afrika en spesifiek Afrikaans? Wat maak jy wanneer hulle nie saamstem met die status quo? En nie net hoe sake met vandag se Afrikaanse musiek staan nie, maar ook die uitkyk op die lewe, generasie ná generasie… 

Kontras is gereed om gat te skop – of jy nou met hul opinies saam stem of nie. 

Met ’n enkelsnit wat gaan maak dat jy jou eie lewe bevraagteken en dit wat jy geglo het reg is, hoop Kontras dat hul dalk net deel van die laastes mag wees wat “kan push om Afrikaans van ’n dooie perd wat uitmekaar uit geneuk en verouderd is terug by die water te kry om

bietjie te kan drink”…sodat ons almal weer op die ou einde eintlik net weer op ’n plek kan kom waar ons ’n lekker tydjie kan hê onder die Afrika son, met “ietsie kouds in ons hande en met geruste harte voor ’n vuurtjie wat brand”.

Kontras het sopas hul enkelsnit, Middelklas Middelman, bekendgestel – die laaste beskrywing wat mens aan die groeplede sal toeken. Dromspeler Daniël Botha verskaf ’n bietjie insig hieroor: “Wat beteken dit om ’n middelklas, middelman te wees? Is dit om in die voetspore van jou vader of moeder te volg en deel te vorm van die breë veralgemening wat so akkuraat is dat dit ons seer maak? Ons almal word groot met die belofte om nie dieselfde foute as ons ouers te maak nie. Maar dan gaan trap ons wragtig gereeld in dieselfde lokvalle wanneer ons ook moet begin om grootmens ‘te speel’.

Middelklas Middelman is ’n weerspieëling tussen ons en die vorige generasies. Dit ’n betuiging tot die dissatisfaksie teen al die leuens wat aan ons gelepel-voer was as kinders – al die pad deur tot jong volwassenes.  Hierdie leuens is van generasie tot generasie aan seuns en dogters verkoop en by hul kele af forseer as die Bybelse waarheid. So die lied is ’n kreet teen die wete dat jou verantwoordelikhede jou verhoed om die lewe van jou drome te lei!”

“Ja!” spring Jacques passievol in. “Dis sommer ’n vet middelvinger teen die uitgetrapte wandelpad…die glad geryde spoor en die deurgeloopte dogmas. Dis beide ’n verlossing en erkenning van mislukking. Al hierdie dinge van die lewe kan soms net te veel word. Ons almal ken daai gevoel – asof alles net enige oomblik inmekaar gaan stort; so ek skep my eie droomland, ’n wonderwerk-wêreld.”

Andrew is ook nie op sy bek geval nie, en voeg by: “In hierdie wonderwerk-wêreld verdwyn die kwale van die middelklas mannetjie en in daardie oomblik is ons almal en elkeen weer daardie kaalvoet-kunsprojek wat speel tussen poele, modder en rotse. In hierdie tydjie ervaar ons ’n herlewing van sonskerm, oumas wat truie aantrek, sonsondergange teen die kus, draairoomys, en om te verdwyn in die veiligheid van ’n groot familie krismis-bed.”

“Duidelik kan ons heeldag oor Middelklas Middelman praat en filosofeer,” sê Louwrens. “Almal moet maar self luister en dalk beteken dit iets heeltemal anders vir hulle. Dit is juis wat musiek so flippen legit maak!”

Die musiek video van Middelklas Middelman is ook nou beskikbaar.

Kyk die video hier:

Waar kan jy nog van Kontras kry en besluit of jy gaan bly of ry?

Met hul unieke talent wat inderdaad in kontras is met so baie afgewaterde Afrikaanse musiek wat al menige oordrom of twee al laat bars het, is dit geen wonder dat Kontras se invloede strek vanaf punk, pop-punk, alternatiewe musiek en nog meer nie. ’n Groep wat verseker met geen andere vergelyk kan word nie!

So wat wil Kontras bereik? Daniël sluit af: “Ons wil ons eie alternatiewe Afrikaanse musiek mainstream maak sodat almal daarmee kan identifiseer op een of ander manier, maar nie noodwendig met alles saamstem nie. Ons wil jong en ouer Afrikaanse mense laat weet dat hul taal nog lewe buiten dit wat deur die generasies by ons afgewurg is.

Ons het maar ons noodlot aanvaar en moedeloos geraak met ons kultuur en taal, en so het dit tot ons ondergang op een of ander manier gelei. So mag Kontras mense weer wakker maak met die ware passie vir Afrikaans, sonder om daai ‘dit was soveel beter in die ou dae’ retoriek te gaan haal en daai arme ou perdjie weer verder dood te bliksem!”
Middelklas Middelman, asook meer musiek van Kontras se onlangse twee kortspeler vrystellings (Side A en Side B), is nou op alle gewilde digitale musiekplatforms beskikbaar.