FOTO: Willem Botha
Die super talentvolle Lee Scott het gedurende die eerste week van September sy splinternuwe enkelsnit getiteld Vry bekendgestel en die terugvoer vanaf aanhangers, publiek en radiostasies landwyd is oorweldigend!
Die musiekvideo vir hierdie inspirerende popsnit met ’n lekkerluister-ritme is ook pas vrygestel en dit is om die minste te sê, indrukwekkend!
LEES OOK: Lee Scott se nuwe enkelsnit is hier
012 Central en die Krugersdorp-mynhope dien as agtergrond vir dié produksie deur regisseur en vervaardiger, Christian Wolf, en sy talentvolle span.
Die bekoring daarvan is gesetel in die doelbewuste eenvoud waarmee dit aangepak is, om die boodskap van die lied nog sterker oor te dra. “Die musiekvideo het nie noodwendig ’n storielyn nie en gaan eintlik net oor ek wat dans in ’n lewensgrote kubus wat uit LED-ligte saamgestel is. Die kubus verteenwoordig dit wat jou, as mens, terughou om net te leef of om ’n goeie tyd te hê,” verklap hy.
“Ek was wel skepties gewees oor die dansery. So ek het onmiddellik my goeie vriend, Harold van Buuren (hoof-beoordelaar van So You Think You Can Dance), gebel om my te help met die choreografie en ons het letterlik die volgende dag begin oefen.”
Loer hier na agter-die-skerms foto’s:
Vry bou voort op die sukses van die kenmerkende styl musiek waarvoor Lee Scott bekendheid verwerf het. Die lied bevat die perfekte kombinasie van goedvoel-lirieke en ’n aanloklike deuntjie, wat sy stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om die lewe te geniet.
Kyk die musiekvideo hier: