Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Die Heuwels Fantasties se nuwe enkelsnit ‘stel nie teleur’

FOTO: Verskaf

Tien jaar gelede het Die Heuwels Fantasties se self-getitelde debuut-album hulle so te sê oornag as een van Suid-Afrika se gewildste bands gevestig. En vandaar vele radiotreffers, toekennings én duisende fans. 

Alhoewel Die Heuwels twee jaar laas ’n nuwe album uitgereik het, is hul liedjies en video’s deel van die daaglikse SA musiek-kultuur. ’n Lekker verrassing vir DHF is dat vierde enkelsnit Niks en Nêrens vanaf die 2017 album getiteld Okay!, so om en by ’n jaar gelede ’n groot treffer was. Pierre Greeff sê dat hulle effens uit die veld geslaan was deur hoe goed die liedjie gedoen het: “Dis ’n great gevoel wanneer so iets insink en ons besef dat ons liedjies mense raak.”

Intussen het hulle ’n ateljee oop gemaak met Fred den Hartog agter die stuur en die lewe het aan gegaan. Oor hoe dinge nou uitrol, sê Hunter Kennedy: “Ek dink ons het bietjie verveeld geraak en gevoel dis tyd vir nuwe musiek. Die hele band was ’n rukkie terug saam vir ’n week in ’n windgat huis in Yzerfontein. Dit help altyd om weg te kom om die kreatiewe klier aan die gang te kry. Ons was reg om classic songs te skryf. Watookal dit beteken. Die liedjie Jy Stel my Teleur het nogal vinnig gebeur. Dit voel asof die kanale na bo oop was daai dag en dis wat deurgekom het. Hy was eerste klaar geskryf en kom nou eerste uit. Te nagedagte is dit vir my ’n interessante tema. Dit het tong-in-die-kies begin, maar so geknoop dat dit eintlik ’n openbaring geraak het vir ’n moeilik-om-neer-te-pen introspektiewe gedagtegang. Van iets wat my vrou gereeld vir my sê tot die eerste stap na self-vergifnis. Teleurstelling is iets wat ons op ’n daaglikse basis konfronteer. Daar is so baie dinge wat teleurstellend kan wees. Ons sien nie soos dit is nie, maar soos ons is.”

Jy Stel my Teleur is die eerste enkelsnit vanaf hul volgende vollengte album wat eersdaags uitgereik word. Dié album is by Sunset Recording Studios in Stellenbosch opgeneem. Jürgen von Wechmar was die ingenieur en het ook Jy Stel my Teleur vermeng. Greeff sê: “Dit was heerlik om ons nuwe musiek te gaan opneem tussen die berge. Sunset is by verre ons favourite studio in die wêreld en Jürgen is die beste.”

Wat hierdie liedjie anders maak as al die ander musiek wat Die Heuwels voorheen uitgereik het, is dat Hunter en Fred elk van die verse en Pierre die koor-gedeeltes in Jy Stel my Teleur sing. “Dit was eintlik maar ’n organiese proses. Ons moes wel vir Fred oortuig. Mbt die introspektiewe aard van die liedjie voel dit reg soos ons dit opgeneem het – asof ons met mekaar praat deur elkeen iets te sing,” verduidelik Greeff.

Die video van Jy Stel my Teleur is ’n samestelling van beelde wat verfilm is by Sunset Recording Studios tydens die opnames, asook insetsels van Die Heuwels se optrede by Liefde by die Dam, Johannesburg in Augustus vanjaar. “Ons het ’n goeie regiseurs-vriend, Hardus van Deventer, afgevlieg om die video te kom skiet. Saam met die fotograaf André Badenhorst, was hulle so te sê ‘flies on the wall’ tydens ons tyd in die studio,” sê Greeff. “Ons is baie tevrede met die video. Dit is presies wat ons wou gehad het in terme van die gevoel van die song.”

Kyk die musiekvideo hier: