Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Peter E. Marx se eerste Afrikaanse enkelsnit reeds ’n treffer

FOTO: Verskaf

Die liedjieskrywer Peter E. Marx het sy heel eerste Afrikaanse enkelsnit vandeesmaand vrygestel. Wees Weer By My, met die boodskap aan almal: Moet nooit ophou glo in jou drome nie. “Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek glo my enkelsnit is baie goed en verdien sy plek in Afrikaanse musiek, maar as ek dit uiteindelik weer kon regkry om my pad terug te vind na waar my droom waar word, kan enigiemand. Moet net nooit ophou glo of tou opgooi nie – jou tyd sal kom,” vertel Peter.

Geïnspireer deur die hoogtepunte, laagtepunte, hartseer en gebrokte harte wat gevolg het op ’n verbrokkelende vorige verhouding, is die self-gepende oorspronklike komposisie Marx se lekker-luister ode tot die liefde, met digterlike lirieke wat enige hartsnaar sal roer.

En binne ’n week vanaf die vrystelling, het Wees Weer By My sommer dadelik op Apple-Musiek se gesogte 50 Afrikaanse Treffers-speellys verskyn saam met van die grootste name in die bedryf, wat duidelik die weg baan vir wat beloon om nog ’n treffer te wees as deel van Marx se indrukwekkende en diverse repertoire.

Marx sê verder: “Terwyl hierdie avontuur van my nou weer begin, wil ek ander kunstenaars aanmoedig dat as hulle hou van wat hulle hoor, wat eerlikwaar net een musiekstyl in my repertoire is, hulle gerus vir my kan kontak vir moontlike liedjies of samewerking. In my hart van harte is ek ’n liedjieskrywer, en sal dit ’n ongelooflike voorreg wees om ook vir ander kunstenaars te skryf.”

Voorheen het Marx talle toekennings gewen (onder meer vir Beste Oorspronklike Liedjie) en het hy twee nommer een treffers geskryf vir sy bekroonde band, Milk, toe die Kapenaar nog in Port Elizabeth gewoon het; dit bo en behalwe liedjies wat hy vir ander kunstenaars en selfs ’n musiekblyspel geskryf het.

Die volgende enkelsnit beloof om ’n groot verrassing te wees vir diegene wat in die tagtigerjare groot geword het 

As Marx dus sukses behaal met Wees Weer By My, of dalk nie, sal hy wel binnekort meer van hom  laat hoor? “Absoluut! Ek het al begin werk aan die volgende enkelsnit wat so ‘n aangename verrassing gaan wees vir diegene wat in die tagtigerjare groot geword het. Die agterverhaal van alles wat hier bymekaarkom het, is eintlik fassinerend en nog ’n droom wat vir my bewaarheid word, maar ek sal meer daaroor deel wanneer dit tyd is om die liedjie vry te stel,” sluit hy af.

Wees Weer By My is nou op alle gewilde digitale platforms beskikbaar.

Kyk die liriekvideo hier: