Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Loki Rothman se nuwe enkelsnit is ’n ‘storie’ wat jy wil hoor

FOTO: Verskaf

Coleske Artists het onlangs Loki Rothman se nuwe enkelsnit Storie vrygestel.

Storie is die eerste enkelsnit vanaf Loki se langverwagte Afrikaanse debuutalbum, wat binnekort bekendgestel word. Loki het die liedjie gepen terwyl Juan “Floors” Oosthuizen die vervaardiging behartig het. “Die enkelsnit is uit die oogpunt van iemand wat onseker is oor die persoon waarmee hulle in ’n verhouding is. Dit gaan oor die maak of breekpunt van ’n verhouding, en die opweeg van hoe die lewe sal wees sonder die ander persoon,” verduidelik Loki

Loki Rothman is tans besig met die laaste afrondings van sy album. Hy is welbekend vir sy talent om ’n instrument te bespeel, maar op die album word sy besonderse stem asook sy skrywers-vermoë beklemtoon. As ’n veelsydige musikant het hy die volgende te sê oor die nuwe album: “Storie het ’n goeie balans tussen die verskeie genres en klanke op die album. Ek glo as mense van die liedjie hou, sal hulle ook die res van die album geniet.” 

Tien jaar gelede het Loki Rothman die harte van Suid Afrikaners verower met sy uitmuntende kitaarspel op die gewilde televisie program SA’s Got Talent. Sedertdien het hy homself oor en oor bewys as meer as net ’n geniale kitaarspeler; hy’s ’n uitmuntende sanger, liedjieskrywer en musiekvervaardiger. As ’n jong musikant het hy die wêreld plat getoer saam met Jack Parow, Die Antwoord en Toya Delazy. In 2015 stel hy twee albums vry; sy debuut solo-album The Way Back, wat in die daaropvolgende jaar genomineer is vir ’n SAMA-toekenning, asook ’n instrumentale album Syndactyly. In 2017 het hy ’n Woordtrofee ingepalm vir beste solo-kunstenaar in kontemporêre musiek en in 2019 vir beste groep saam met die Soweto String Quartet. 

Loki Rothman is nie onbekend by Afrikaanse gehore nie, hy’t die afgelope paar jaar skouers geskuur met bekendes soos Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke én Riana Nel. Hy het selfs sy buiging op die Afrikaans is Groot-verhoog gemaak in 2017. Die grootste hiervan is natuurlik sy musiekverhouding met Laurika Rauch, saam met wie hy André Swiegers se immergroen lied Blou verwerk en opgeneem het. Hulle het in 2017 weer kragte saam gespan vir ’n nuwe verwerking van Laurika se treffer Kyk Hoe Glinster Die Maan vir die Afrikaanse film Liewe Kersfeesvader. Aanhangers van beide Loki Rothman en Laurika Rauch kan weer opgewonde raak oor ’n splinternuwe duet Fitzroy Straat. Loki het dié lied geskryf vir sy Oupa Louwtjie Rothman wat verlede jaar oorlede is… 

Loki Rothman skiet ook binnekort ’n musiekvideo vir Storie en beplan ’n bekendstellingstoer vir die nuwe album.