Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Michelle Grace wil jóú weer laat ‘glo’!

FOTO: Francois Olivier

Die klassieke crossover mezzo-sopraan, Michelle Grace, het onlangs haar heel eerste enkelsnit bekendgestel. Ek glo in jou is ’n klassieke crossover-gospellied, geskryf deur Rudi Claase. “Ek het nie die lied gekies nie, die lied het my gekies. Toe ek dit die eerste keer hoor was daar ’n groot roering in my hart, siel en gees,” vertel Grace.

Ek glo in jou handel oor die eensaamheid wat mense soms beleef wanneer niemand saam met jou in jou of jou drome glo nie, en die belangrikheid dat jy in jouself moet glo. Grace verduidelik: “Die lied se boodskap is dat elke mens nooit moet ophou om te glo in jouself, in liefde, geloof, drome en sukses nie. Die belangrikste is om te weet dat God altyd in jou sal glo.” Sy verduidelik verder dat die lied oor haar pad gekom het toe sy self deur ’n moeilike tyd gegaan het, waar haar geloof soms gewankel het en die lied het haar gehelp om weer in haarself te glo.

Grace is ’n talentvolle sangeres wat haar mezzo-sopraan stem maklik aanpas om in enige kontemporêre, gospel of pop genre te pas. Sy het ’n ryk familie geskiedenis van opera sangers; haar oupa was ’n opera sanger en so ook sy oupa. Sy’t as baba reeds in die huis rondgeloop, gesing en boude geswaai op Al Debbo se Hasie, hoekom is jou stert so kort. Op laerskool was sy deel van Willie en die Wenspan se gospel kindergroep.

Sy het vanaf ’n jong ouderdom sanglesse by haar oupa ontvang, en hy het haar baie gehelp met haar tegnieke. Op die ouderdom van 12 het sy opleiding begin kry wat ooreenstem met die Italian Technique. Daarna het sy aan heelwat sang kompetisies deelgeneem en gereeld sertifikate en medaljes huis toe geneem. Grace word steeds afgerig deur die bekende Suid Afrikaanse opera sangeres Lorraine Havemann, in Italiaans, Duits asook musiek teorie.

Met twee albums agter haar naam, was Grace op verskeie bekende Suid-Afrikaanse TV programme, onder andere DKNT, Jukebox, Glitterati en JAM. In 2012 word sy benoem vir die Beste opkomende kunstenaar van die Jaar by Bok Radio se jaarlikse Bokkie-toekennings. Nóg ’n hoogtepunt vir haar was toe sy die lied Heavenly opgeneem het vir die voormalige America’s Got Talent wenner Jackie Evanch, geskryf en vervaardig deur Rudi Claase.

Grace is tans besig om te skaaf aan haar nuwe alnum. Sy is ook opgewonde om te deel dat Aria Johnson, die eienaar van The Golden Voice and Artist Development Company in Los Angles, met haar gaan werk en help om verder te ontwikkel as ’n kunstenaar.

Kyk Ek glo in jou se musiekvideo eksklusief hier: