Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Johan Vorster en Karen Zoid pen Leah se nuwe enkelsnit

FOTO: Willem Botha

Leah is terug met ’n splinternuwe enkelsnit! Kyk na my, is pas vrygestel en gereed om radiogolwe en musiekharte oral te verower. 

Sedert sy in 2013 kykers se harte gesteel het met haar uitsonderlike sangtalent en toneelspel in André Odendaal se lokettreffer, As Jy Sing, het sy beslis geen bekendstelling nodig nie.

Sy het al saam met van die land se bekendste kunstenaars gewerk, by van die grootste feeste in die land opgetree, die temaliedjies van twee flieks – Die Sneeukoningin 2 en Susters ’n duet saam  met Jo Black, waarin sy ook een van die hoofrolle vertolk, het gesing. Leah het ook al ’n hele rits musiektoekennings ingepalm. Treffers soos Met Jou Klere Aan en Volmaan was groot radiotreffers  vanaf haar vorige albums.

Leah is ook die aanbieder van die gewilde kykNET-reeks, Boer Soek ’n Vrou, waarvan die twaalfde seisoen eersdaags op die kassie te sien is en waar sy weer boere gaan help met hul soeke na liefde.

Kyk na my is ’n sielvolle ballade, uit die pen van twee groot name in Afrikaanse musiek – Johan Vorster en Karen Zoid. Dit handel oor die feit dat almal op ’n tydstip in hulle lewens op ’n weerlose plek kom, maar ook dat daar altyd hoop is. Daar is immers geen skaamte daarin om in ’n donker plek te wees en na iemand uit te reik nie.

Volgens Leah het sy dadelik aanklank gevind by liedjie omdat sy self al deur moeilike tye in haar lewe gegaan het, maar gelukkig genoeg was om iemand te hê wat haar weer laat glo het in haarself. “Weerloosheid is deel van menswees en ek dink almal was al daar. Johan en Karen het hierdie konsep gebruik om Kyk na my te omskep in ’n liedjie waarmee almal kan vereenselwig. Die opbou na die einde van die snit is ongelooflik. Nie net is die woorde bittermooi, rou en waar nie, maar die produksie is ook hoendervleis mooi,” verklap sy. 

Oor die musiekvideo, wat deur Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus verfilm en vervaardig is, sê sy: “Ons heldin is ’n pragtige jong meisie wat kanker het. Sy gaan deur hel en is op die punt om op te gee, totdat ’n spesiale persoon haar weer laat sien hoe waardevol sy is. Hy aanvaar haar soos sy is, ongeag waardeur sy gaan, hoe sy lyk of hoe sleg die omstandighede is. Dis ’n wonderlike storie van hoop, waar hy haar kies, elke dag, oor-en-oor. Jy is genoeg.”

Kyk die musiekvideo hier:

Kyk na my is die tweede enkelsnit en ook die titel van haar splinternuwe album wat op 13 September vrygestel word. Die eerste, Ek Mag Jou Mis, is ongelooflik goed ontvang. Sy spog reeds met ’n stewige lys treffers op vorige vrystellings, waaronder Ek Moes Jou Gesoen Het (saam met Bobby van Jaarsveld), Nooit Alleen (saam met Jo Black, waarvan die musiekvideo reeds meer as 4.4-miljoen trefslae het)  ,  Volmaan, Meer As Niks, Jou Liefde en  Met Jou Klere Aan (waarvan die musiekvideo deur meer as 2.5-miljoen mense gesien is). 

Haar debuut-album Wonderwerk, waarvan sy later ’n Deluxe-weergawe uitgereik het, het goue status vir verkope bereik en is ook bekroon met ’n  Ghoema- en drie Huisgenoot Tempo-toekennings (Beste Nuweling, Beste Liedjie en Beste Musiekvideo), asook ’n Bokkie-toekenning vir Beste Vroulike Kunstenaar.

Leah is vanjaar al tien jaar in die musiekbedryf doenig. Hierdie Kapenaar kom uit ’n musikale familie en het reeds op ’n jong ouderdom begin sanglesse neem en vertonings hou in hulle sitkamer.

Dié skoonheid spog met ’n diploma in Musiekteater, asook ’n BCom-graad in Regte, omdat sy buiten vir haar liefde vir musiek ook nog altyd ’n sterk sin vir regverdigheid gehad het. Sy geniet ’n wye verskeidenheid musieksoorte, maar meen dat Laurika Rauch se tydlose styl vir haar ’n groot inspirasie is. Ed Sheeran, Taylor Swift en Maren Morris word ook gelys as van haar huidige gunstelinge.
Om hard te werk en uniek te wees, is wat die musiekbedryf haar geleer het en sy pas dit tot vandag toe steeds toe. Kyk na my versinnebeeld nie net die groei en omwenteling wat hierdie talentvolle dame die afgelope paar jaar ondergaan het nie, maar is ook ’n liedjie wat harte gaan raak en haar plek in die bedryf verder sal verstewig.