Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Ruhan du Toit se solo-enkelsnit is hier!

FOTO: Verskaf

As jy dink jy weet is die eerste enkelsnit waarmee Ruhan Du Toit ’n hele nuwe hoofstuk van sy solo-loopbaan aandurf. Dié liedjie handel presies oor wat die titel sê – as jy dink jy weet, maar wat jy dink en wat die werklikheid is kom nie noodwendig bymekaar nie.

“Die lirieke verwys na daardie plek in verhoudings waar mense gewoond raak aan mekaar, waar gevoelens nie altyd so duidelik gekommunikeer word nie. Dis die comfort zone waarin meeste mense hulself bevind in ’n verhouding,” sê Ruhan.

Hy glo mense sal kan vereenselwig met die eerlike lirieke en dat luisteraars aanklank sal vind by die liedjie omdat die melodie maklik is om na te luister. Alhoewel Johan Oberholzer die liedjie geskryf het, kon Ruhan dadelik daarmee vereenselwig. “Dit voel of dit uit my hart uit kom,” vertel Ruhan.

LEES OOK: Ruhan du Toit gaan terug na sy wortels

Dis vir hom belangrik om musiek te maak wat outentiek en eerlik is, en om liedjies te sing met ’n sterk boodskap of storie.

Ruhan Du Toit vier vanjaar 26 jaar in die musiekbedryf, nadat hy sy eerste album opgeneem het op die ouderdom van tien. Sedertdien het hy aan talle musiekprojekte gewerk totdat hy deel van Touch of Class geword het in 2012. Hulle het gehore oraloor bekoor en tot vandag toe beskryf Ruhan die sukses van die merkwaardige weergawe van The Sound of Silence as ’n hoogtepunt in sy musiekloopbaan.

“Die reaksie van die gehore was iets wat ek nog nooit vantevore beleef het nie en ’n mens raak nooit gewoond daaraan nie. Ek voel nou nog dankbaar.” Die span van Coleske Artists staan ook agter Ruhan en sien veral uit na sy optrede by vanjaar se Afrikaans Is Groot-konsert in November.

Ruhan sê ook dat hy sy inspirasie vind in die universele uitwerking wat musiek op mense het, en hoe hy dit kan gebruik om mense se lewens te verander. As hy nie skryf, in die studio opneem of op toer is nie, geniet hy graag ’n af tydjie langs die viswaters…

As jy dink jy weet is eersdaags op musiekplatforms beskikbaar, maar luister vanaf vandag daarvoor uit op jou gunstelingradiostasie.