FOTO: Jacques du Preez
“Die meeste van ons het al in ons leeftyd iemand tydens ’n vakansie of troue ontmoet, wat ons glad nie ken nie, maar waarmee ons op daardie oomblik net gekliek het. Alhoewel daar geen langtermyn verbintenis is nie, maak beide partye die beste van daardie enkele ontmoeting en word dit ’n herinnering wat vir altyd gekoester word,” verklap Michael Blignaut oor die betekenis agter sy derde enkelsnit,Ons het net vanaand, wat pas uitgereik en deur Muse Productions vervaardig is.
Hierdie popliedjie, uit die pen van Nerine Gardiner, het ’n opgewekte dansaanslag en verskil hemelsbreed van die rustige ballades waarvoor dié dertig-plusser bekendheid verwerf het. “Dit is my heel eerste dansliedjie en ek het gevoel dat die ritme gepas is vir die tema van die snit, wat ook soos my vorige vrystellings oor die liefde gaan,” sê hy. “Toe ek en Nerine oor die liedjie gesels het, het ek dadelik gehou van die idee, omdat ek een somervakansie ’n soortgelyke ervaring gehad het en daarmee kon identifiseer.”
Luister hier na ’n voorskou:
Die musiekvideo word binnekort deur Fathom Media, wat ook Michael se vorige video’s vervaardig het, in Gauteng verfilm. Alhoewel die kunstenaar nog nie veel hieroor wil verklap nie, deel hy dat hulle ’n baie prettige buitelug-konsep in gedagte het en dat aanhangers ’n bekende gesig of twee in dié produksie kan verwag.
Ons het net vanaand volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige enkelsnitte, Naglig en Hemelwater, wat baie goed ontvang is. Beide treffers het speeltyd gekry op verskeie groot radiostasies en die musiekvideo’s kan steeds op die kassie gesien word. Naglig het ook vir vier agtereenvolgende weke die nommer een posisie bekleë op die Kaapse streeksradiostasie, SFM, se treffersparade. “Elke liedjie wat ek vrygestel het, dra ’n sterk boodskap en is baie goed deur die publiek ontvang en dit maak my ongelooflik trots,” deel die musikant.
Michael het in Piet Retief grootgeword en sing al van kleins af, maar het eers later in sy lewe ernstig geraak oor musiek. Hy het wel aan verskeie kompetisies deelgeneem, waaronder Ons Soek Die Sanger, The Voice SA en Die Kontrak – maar sonder veel sukses – omdat die tyd nie reg was nie. Na skool het hy Besigheidsbestuur en Toerisme by die Tshwane Universiteit van Tegnologie gaan studeer, waarna hy by sy ouers se besighede aangesluit het.
Omdat hy nie sy musiekdroom heeltemal wou prysgee nie, het hy deel geword van die musiekgroep, MP5, wat oor naweke by funksies en troues musiek maak. Dié groep het ook al die geleentheid gehad om twee keer in Mozambiek op te tree en die gehore het dit baie geniet.
Sedert hy sy eerste enkelsnit uitgereik het in September 2018, het dié kunstenaar al die geleentheid gehad om die verhoog te deel met talle groot name in die bedryf en meen hy dat die terugvoer sover sy grootste verwagtinge oortref het: “Dit voel partykeer asof ek myself moet knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Dit was nog altyd my passie om te sing. Nou doen ek dit én mense hou daarvan.”
Alhoewel Michael Blignaut aanvanklik net eers die water wou toets deur drie liedjies met die mark te deel, is die sukses wat hy tot dusver bereik het genoeg om hom te oortuig dat ’n permanente musiekloopbaan wel vir hom bestem is. Ons het net vanaand bevat al die goedvoel-elemente waarvan Suid-Afrikaners hou en beloof om sommer gou ’n treffer op die dansvloer te wees.
Ons het net vanaand is beskikbaar op alle digitale platforms.