Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Julanie J reik eerste enkelsnit uit

FOTO: Verskaf

Die gewilde jong sangeres en liedjieskrywer Julanie J se enkelsnit Dalk is Ek is op 19 Julie uitgereik. Dit is haar eerste uitreiking in samewerking met Warner Music South Africa en Julanie sien uit daarna om hierdie nuwe liedjie met ander te deel: “Ek skryf en sing omdat ek iets wil sê. Ek glo dat my musiek nie net mooi woorde of n catchy tune is nie, maar dat dit vir iemand mootlik iets sal beteken.”

Julanie wat pas haar 21ste verjaardag gevier het, is so te sê met die musiek-lepel in die mond gebore. Sy het haar eerste liedjie op die ouderdom van vier jaar geskryf en haar debuutalbum Spirit Breakout (2015) het binne 24 uur die Top 30 van die internasionale iTunes trefferlys gehaal. Sy is in 2016 vir ’n Mzanzi ChristianToekenning genomineer.

Julanie skryf ook vir verskeie ander kunstenaars en het al onder meer liedjies geskryf vir een van Afrika se grootste kunstenaars Lokua Kanza, sowel as vir Helmut Meijer AKA Calev, Namibië se Veertjie wenner Sanet Lambrechts en die sangeres Nadia Vorster. 

Julanie verduidelik dat sy meestal selfondersoekende liedjies skryf: “Ons as mense raak so vinnig ingesluk en vasgevang in die verlede of identifiseer so met ons probleme dat ons soms skoon vergeet wie ons is. Ek dink ’n mens moet daagliks jouself die vraag vra: ‘Wie is ek en waarheen is ek op pad?’ Mense en hul stories raak my hart. Dit is vir my lekker en maklik om te skryf omdat ek dinge om my raaksien. Ek probeer altyd om so oplettend as moontlik te wees, mens kan jouself verbaas oor die klein goedjies wat ’n mens mis as jy te vinnig lewe.”

’n Musiekvideo van Dalk is Ek is ook onlangs uitgereik. Julanie J het die storielyn geskryf en die talentvolle span by Jet Black London het die video vervaardig. “Meeste mense werk 9 tot 5 en is nie noodwending gelukkig nie. Baie voel dis maar alles roetine of dat hulle harde werk nie altyd raakgesien word nie. Ons het baie pret met die maak van die video gehad. Ek wou daardie gevoel vasvang dat ons onsself nie altyd so ernstig moet opneem nie.” 

Kyk die musiekvideo hier:

Julanie J werk tans saam met musiek-vervaardiger Gideon Botes aan die vollengte album wat later vanjaar uitgereik word. Botes is bekend vir sy studio- werk met onder andere Nianell, Watershed, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha en die Soweto String Quartet.